Hoe weet jy?

“Maar hoe het ma geweet dat ma die regte persoon trou?” het ek as kind met groot oë gevra. “Hoe het tannie geweet?” “Wat het jou laat besluit om hierdie persoon te trou?” Ek vra hierdie vrae al my hele lewe lank en ag! as ek maar net ‘n Rand kon kry vir elke vae antwoord van “As jy weet, dan weet jy.”

Gister het iemand dieselfde woorde gesê. Behalwe hulle het bedoel: as jy weet die verhouding gaan nie werk nie, dan weet jy. Hierdie weet-net-stories is vir my problematies om die minste te sê.

Laat ek verduidelik: Ek onthou ek was laerskool toe ek vir een oom gevra het: “Maar oom het net geweet met oom se eerste vrou en dit het nie uitgewerk nie, so hoe kan mens seker wees?” Ek onthou die gevoel in die vertrek meer as sy antwoord. Maar deur al die jare bly dit my punt: baie mense het net “geweet” en toe weet hulle nie later meer so mooi nie. Toe weet hulle presies die teenoorgestelde selfs.

Ek het nou die dag met ‘n egpaar oor 60 gepraat wat jare terug na slegs 5 maande verloof geraak het. Hulle het net geweet. Ek het nou die dag gepraat met iemand wat vinnig getrou het en vinnig geskei het. Hulle het ook geweet. Daar is natuurlik diegene wat sê dat hulle vroeë tekens geïgnoreer het, dat hulle meer wou weet as dat hulle in werklikheid geweet het. Maar daar is die wat opreg gedink het this is it.

As ‘n ongetroude buitestander is dit vreesaanjaend dat niemand – of ten minste min mense – vir my taal het om my te help weet hoe ek ook eendag kan weet nie. Mens kan dit seker die misterie van die liefde noem, maar ek is ‘n Jane Austen aanhanger. Waar Elizabeth weet omdat Darcy karakter toon. Waar Emma weet omdat Knightley eerlik met haar is. Waar Elinor weet omdat hulle geaardhede pas en Marianne omdat Brandon lojaal en betroubaar is. Dít is die stories wat ek wil hoor van die mense rondom my, die bakens wat my kan help weet waarvoor om uit te kyk. Dis bakens wat ek vir die tieners met wie ek werk wil kan oordra terwyl ek die kans het.

Is daar wysheid te vind in die morsigheid van regte-lewe-liefde wat nie altyd redes kan vaspen soos die klassieke skrywers nie? Ek hou van die idee dat ek altyd probeer om my beste te doen met die inligting tot my beskikking. Want wat ek weet, verander konstant. Socrates het sy troos en wysheid in sy onkunde gevind. Dalk kan ek ook en weet dat ongeag wie ek eendag kies, dit ‘n waagstuk gaan wees. Die lewe is te onvoorspelbaar. En dalk, as jy dít weet, weet jy of iemand die waag werd is.

2 thoughts on “Hoe weet jy?

  1. Interessante skrywe. Hoe weet mens? Ek dink die mense wat te vertelle het dat as mens weet dit is die regte man, is reg. Ek het geweet manlief is die regte man vir my – met my hart en my verstand. My eerste “ou” was ‘n roker, dus het my verstand geweet hy gaan nie die man kan word nie. Ek verpes rook. So ook die tweede een. Nie een het in my geselskap gerook nie, maar … jy kon hulle ruik, proe. Onaangenaam. En na die verleif fase sou hulle my uit die huis en kar rook. Beide het my verneuk – gelukkig. En so is hulle in die pad gesteek, met die hart wat betyds seergekry het. Sou veel erger gewees het as die pyn na die huwelik gekom het. God het my help beskerm. My man was nie ‘n roker nie, hy het sy studies erntig opgeneem – belangrik as jy ‘n juffrou word – en sy hart behoort aan my. My kop en hart het saam besluit die pasmaat is goed – as hy my sou vra om te trou. So die vraag wat beantwoord moet word, is die een van hoe weet mens dat dit nie werk nie. Dit is nou die een waar die verstand die hart begin oorheers. Foute soek, nie wil kopgee nie, wil wen. Goed soek wat nie daar is nie. Onredelik word. Ek gaan hier nie oor ander mense praat nie, maar spesifiek myself. Ek het verskeie goed geleer tydens ‘n huwelik van bykans 40 jaar: (a) moenie die man probeer verander nie, jy het hom gekies en aanvaar soos hy is. Die kans is baie groot dat jy nie van hom gaan hou as hy is soos jy hom verander het nie. (b) gaan slaap as jy kwaad is, die ou mense het twak gepraat. Dit is aaklig as jy wil uitpraat en hy wil slaap. In die daglig kom jy selfs agter dat jy ‘n groot fout sou maak as jy die gesprek gevoer het terwyl jy siedend kwaad was. Dit geleer terwyl manlief net gaan slaap het en nie wou praat nie, beste raad wat ek aan ander kan gee. (c) sodra julle saambly gaan baie goed jou irriteer. Dit is logies, jy het die ware mens nie ontmoet terwyl julle kort tydjies saamgekuier het nie. Julle voel anders oor familie – ek moet myne baie sien, hy kan jare gaan sonder om syne te sien. (d) jyself is toe ook nie so ‘n fantastiese mens as jy jou alles met ‘n man moet deel nie, (e) as jy elke keer JULLE bo jouself kies, het dit ‘n gelukkige huwelik tot gevolg, (f) moenie ‘n perfekte lewe verwag nie. Niemand s’n is nie. Kyk byvoorbeeld na Brad Pitt en Angelina. Toe hulle eers besluit hulle skei, hang hulle vieslike goed in die openbaar, goed wat wys dat hulle NOOIT mekaar gekies het toe hulle konflik moes hanteer nie. En (g) as jy net gelukkig is as ander eeken dat jy reg en perfek is, moenie trou nie. Dit gaan vir jou ‘n aaklige lewe wees, een wat jy gaan opskop. Daar is nie ‘n regte en ‘n verkeerde persoon in ‘n huwelik nie. Net in sommige situasies. Maar – hy hoef nie op sy knie te gaan om te erken dat jy reg was nie. Dit is een van die hoofredes waarom huwelike na my mening misluk. ‘n Geveg oor wie die broek in die huis moet dra gebaseer op wie is reg en wie is verkeerd. ‘n Huwelik is ‘n proses, ‘n lewe, ‘n daaglikse keuse om by jou maat te bly. Een wat maak dat kinders as getroudes by jou kom kuier – niemand hou van negatiewe omgewing nie. Dus is die huwelik ‘n proses. Aanvanklik word dit deur lus oorheers, die natuur wil tog dat mens voortplant, is dit nie. Daarna kwyn die lus om plek te maak vir samesyn. Ek het doelbewus oor my eie lewe en ervaring geskryf, nie in die algemeen nie. As hy jou slaan, en nie vir berading wil gaan nie, los hom. As hy jou dreig, en nie vir berading wil gaan nie, los hom. Dt is goed wat nie agter die gordyne van ‘n huwelik hoort nie. Dit vertel die statistiek ons – die meeste geweld kom in die “veiligheid” van ‘n huwelik voor. Dalk omdat die skuldige wegkruip agter die wete dat hy of sy kan seermaak soos hulle wil – die beseerde gaan nie kla nie, veral nie as hulle nie ‘n ander heenkome het nie …

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: