Ou wysheid

Ek is eens aangeraai het om eerder ’n stoorkamer as ’n huis te huur. Dit sal my goedkoper uitwerk, was die persoon se mening. Dalk is hulle reg.

Ek het gaan tel. Hierdie jaar is 229 dae oud en ek was tuis vir ’n skamele 142 daarvan. Dit beteken dat ek (tot dusvêr) meer as ’n derde van die afgelope sewe en ’n half maande nie in Stellenbosch spandeer het nie.

Meestal was ek weg vir my studies of werk. Partykeer weg vir familie en vriende. Nou en dan het ek weggeglip na Saldanha om weer bietjie vir my mense daar te gaan kuier. Dit is nou juis hier, in Saldanha, wat ek hierdie sit en skryf.

Vir my persoonlikheid is dit perfek. My lewe het byna geen roetine of ritme nie en dit maak elke maand iets nuut en anders. Dis opwindend. Meestal. Soos alle dinge is daar egter ook ’n skadukant, soos vlieg. Nooit het ek gedink dat ek so blazé oor ’n plaaslike vlug sal wees nie.

Dit is ook bra moeiliker om wortel te skiet.

Ek het al ’n netwerk in Stellenbosch. Daar is vriende om mee koffie te drink, roomys te eet of ’n drankie te drink. Daar is mense wat vir my kos stuur as ek siek is en wat oplet as my kar lank nie by my huis gestaan het nie. Ek het ’n haarkapper, skoonheidsterapeut en dokter. Stellenbosch voel regtig soos huis en ek is diep dankbaar om daar te woon.

Ek is nou al vyf dae in Saldanha en tog let ek iets vreemd op.

Eers het ek net my aangenome familie met ’n paar goed gehelp. Gee hier ’n rygeleentheid, stuur daar gou ‘n e-pos, verrig klein takies en doen inkopies. Klein goed. Vandag het ek ander vriende gehelp om hulle kind dokter toe te neem en more is dit om iemand by die werktuigkundige se werkswinkel te gaan oplaai.

Ewe skielik is my village nie een van laataand kuiers of avonture nie, maar een van diens, van klein alledaagse takies.

En dit is so sinvol.

Om deel van hierdie village te wees verryk weer my lewe op ’n manier wat Stellenbosch nog nie het nie. Ek het net opnuut tot die besef gekom dat ons kinders nie al is wie villages nodig het nie. Ons as volwassenes kort ook villages om werklik mens te wees. Villages waar ons kan dien en deel in die alledaagse geluk en vreugdes van mekaar. Villages waar hande mekaar se voete was.

Ek weet nie wanneer presies ek terugkeer Stellenbosch toe nie, maar ek dink ek mag dalk met ’n ander ingesteldheid teruggaan: nie net om ’n village te bou saam met wie ek kan dans nie, maar ook een te bou wie ek kan dien.

Wat het my twintigs my geleer?

En so, op die vooraand van my dertigste verjaarsdag, vra ‘n vriend my: “Wat vat jy saam met jou uit die vorige dekade?” Sjoe… dan moet ek eers onthou wat alles die afgelope dekade gebeur het. Alles vanaf my tweede jaar van my studies tot die tweede jaar van my verdere studies. Ek deel maar hier wat ek het.

  1. Punte is goed. Harde werk is beter.
  2. Harde werk is goed, maar gereelde kwaliteittyd met jou mense is noodsaaklik.
  3. Jou mense is noodsaaklik, maar so ook is grense.
  4. Grense is nie teenoor genade nie.
  5. Ons loop almal op genade, so laat ek liefs stil wees as iemand anders hulself op ‘n ander pad bevind.
  6. Die lewe is nie een lang pad wat ons hoef te stap ad infinitum nie. Ons mag maar draaie neem en nuwe rigtings inslaan.
  7. Nuwe rigtings is nie tekens van swakheid nie, maar van waagmoed.
  8. Swakheid is jou grootste sterkpunt.
  9. Saam swak-wees is nog sterker.
  10. Saam-wees is ‘n voorreg, maar so ook alleen-wees.
  11. Alleen reis is een van die beste goed wat jy in jou lewe kan doen.
  12. Reis as ‘n toeris is lekker. Reis as ‘n pelgrim transformeer jou.
  13. Doen in jou tuisdorp wat jy sou gedoen het as jy oorsee was.
  14. Oorsee reis is ongelooflik, maar om in jou kar te klim en deur ons land te toer is magical.
  15. Jy kan nie genoeg Harry Potter lees nie.
  16. Lees die koerant en kyk die nuus, maar nie te veel nie.
  17. Jy gaan altyd nuwe nuus oor jouself by ander leer. Haal asem, lag selfs, en maak seker jy weet wat jy doen en hoekom jy dit doen.
  18. Vra jouself hoekom jy hou waarvan jy hou. En maak vrede met dit wat jy nie van hou nie, al is dit teen die grein. Want nee, die Mona Lisa is nie mooi nie.
  19. Skerp jou in op die kuns van die lewe, maar lees Prediker genoeg sodat jy sal onthou dat ook wysheid tot niks kom.
  20. Kyk die realiteit van die totale chaos en hartseer wat hierdie lewe jou kant toe kan gooi in die oë. Huil, woed, lament, maar maak ook vrede dat sommige goed net bo begrip en bo verstand is.
  21. Vrede-maak beteken nie dat almal stil bly nie, maar dat verhoudings reg is vir almal betrokke. Dit gaan oor geregtigheid ook.
  22. Geregtigheid en liefde kan langs mekaar staan en kan nie mekaar uitskakel nie.
  23. Liefde vir mense met wie jy nie saamstem nie is vrek moeilik, en vrek waardevol.
  24. Om te stry met iemand met wie jy nie saamstem nie, maak selde ‘n verskil. Om langs mekaar te leef, maak ‘n groter impak.
  25. Jou impak op mense is nie jou besigheid nie. Doen net wat jy doen tot die beste van jou vermoë.
  26. Partykeer kyk mens terug en wonder oor jou keuses. Om dan te kan sê: “ek het die beste gedoen met die inligting tot my beskikking” het my al baie gehelp.
  27. Google dit. Lees dit. Maar luister ook na die mense om jou se wysheid wat tot jou beskikking gestel is.
  28. Vriendskappe vat partykeer tyd. Dit is dikwels eerder jou ma se slow cooker stew as jou MSG two minute noodles.
  29. Vriendskappe vra vergifnis. Baie. Dit is hoe goeie vriendskappe geskoei word.

Van dit kom al maklik, maar natuurlik kry ek nie alles reg nie. Maar dalk, as dit God se wil is, het ek nog ‘n dekade om dit in te skerp.

Fokof

Wat is die eerste ding wat mense sê as hulle hoor jy is ‘n dominee?

“Skies, ek vloek…”

Want dis mos die dominee-doodsonde. Blykbaar. Die f-woord. Tog het ek al op twee geleenthede oomblikke van diepe konneksie met God te midde van hierdie verskriklike f-woord beleef.

Die eerste geleentheid is nie my storie om te vertel nie. Die tweede was vandag.

Halfpad op teen ‘n berg het die woord “Fokof!” vanuit my diepste wese in die aarde voor my geval. Vir ‘n oomblik het ek stilgestaan en gehuil. En toe het ek gebid. En dit was goed.

Ek weet ek sou nou my ouma skok. Ek weet my oupa sou sê dat ek nou nie reg praat nie. Ander ouma sou my ‘n drukkie gee (al was sy dalk geskok). Maar ek dink my ander oupa, die dominee, sou dalk, net dalk, gelag het en saamgestem het. Want as jy met mense se stories werk, weet jy dat PG-rated taal soms net nie genoegsaam is om die chaos van die lewe aan te spreek nie.

Ons leer ons kinders van vroeg af om nie te vloek nie, maar leer ons hulle (en onsself) wel om sekere dinge in hierdie lewe te vervloek wat dit werd is om vervloek te word? Want party goed in ons lewens verdien niks minder as ‘n fokof nie. Ons verwar ‘nice’ en ‘goed’ te gereeld met mekaar. Die punt is nie om ‘nice’ mense te wees nie, maar om te werk vir goedheid en goedheid sê vir boosheid om te fokof.

So hier is die heidense raad wat my dag gemaak het: gryp daardie koekie seep as dit jou gewete sal sus en vlug in jou ekwivalent van die berge in. Vat jou tyd. Laat die heilige woede in jou opbou. Mik daardie gevreesde vyf letters in die aangesig van dit wat lankal reeds moes wyk. Sit in dit. Sê dit! Skree dit! Spoeg dit!

Mag dit meer as katarsis wees. Mag dit heilig wees en heiligmaking wees. Nie omdat ons stoute woorde soos ‘n resep staan en stammel nie, maar omdat God dalk in ons eenvoudige handeling kan kom en doen wat God doen: om oor chaos te beweeg en vir die donker te sê: “Fokof!”

Lean into your freaky

Tydens die dankoffer leun sy oor: “Ek bedoel dit nie sleg nie, maar as iemand van buite moet kom en niks van hierdie goed weet of ken nie, sal die nagmaal en soos daai ding wat almal so saam opsê super freaky wees.”

“Ek weet,” antwoord ek haar. “Ek het vandag presies dieselfde gedink.”

Ek sit in die kerk langs my goeie vriendin, Riana*. Sy het ingestem om vanmore saam met my kerk by te woon, ten spyte van die feit dat sy haarself nie werklik as ’n ‘Christen’ sou beskryf nie. Riana beweeg eintlik as ’n buitestander van die kerk. So vanmore, tydens die erediens, het ek die vreemdste ervaring gehad: vir ’n oomblik het ek uit Marileen se lyf geklim; Marileen wat in die kerk grootgeword het en wat in die binnekring van die kerk beweeg (selfs by hierdie gemeente waar sy ’n besoeker is). Vir ’n oomblik het ek in Riana, wat langs my in die kerk sit, se lyf geklim.

So toe die seëngroet uitgespreek is, het ek dit vir die eerste keer gehoor soos wat ’n buitestander dit moes hoor:

“Ek groet julle en ek bid dat God en die Sewe Geeste wat voor sy troon is en Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle sy vrede sal gee” (Openbaring 1:4).

My eerste gedagte? “Wat op dees aarde…?”

In daardie oomblik kon ek nie anders as om te wonder hoe vreemd kerk vir ’n buitestander moet lyk nie.

Ek staan in ’n ry om die tekens van die nagmaal te gaan haal. Ons sê die Apostoliese Geloofsbelydenis op. Almal op dieselfde, bekende ritme. Ons sing die Onse Vader. Ek pik ’n traan. Selfs hier, as besoeker, vind ek koestering in die woorde van die geloofsbelydenis:

“Ek glo in ’n heilige, algemene, Christelike kerk
Die gemeenskap van die heiliges
Die vergewing van sondes…”

Ek, ’n binnekring besoeker vind ’n tuiskoms in die bekende liturgie (diensorde), simbole en rituele wat my lyf so goed ken. Dis verwelkomend. Dis ’n anker vir hierdie swerwer tussen kerke. Hoe sing Francois van Coke? “Ek dryf weg, maar jy sal konstant bly.”

Ek het die liturgie van die kerk nodig. Ek het nodig om die brood te kan skeur en plat druk tussen my vingers, om die wyn swaar te sluk. Ek het nodig om te bely, te besin en te besing (selfs al hou ek nie van ’n spesifieke lied nie). Ek het dit nodig om my hande bak te kan hou wanneer die seën uitgespreek word. Ek het die Christus-kers nodig.

Ek dink nie Riana sou dieselfde taal gebruik nie. Miskien is die liturgie vir haar juis iets vreemd, iets wat haar buite hou, haar versigtig maak. Ek weet nie.

Maar ek weet dat sy my vriendskap nodig het (soos ek hare). Ek weet dat ons vriendskap vra dat ons saam mekaar se hande druk soos wat ons swaar aan die lewe sluk. Ek weet dat sy my lief het omdat ek glo, soos wat ek haar lief het omdat sy worstel. Ek weet dat ons saam onsself in verwondering vir musiek kan ingooi en ek is gek oor die feit dat ons altyd hard en diep oor die lewe en oor ons verstaan van God dink. Ek weet sy het goedheid nodig en dat sy dit uitleef sover sy kan.

In teologie praat ons van die “liturgie van die lewe”. Dit is die gedagte dat die idees agter die liturgie, rituele en simbole in die erediens nie op Sondae moet stop nie, maar dat dit moet uitloop in ons alledaagse lewens.

Soos in ons vriendskappe.

Ek is nie vriende met Riana sodat ek haar “kan bekeer” nie. Nee. Dit is vriendskap en liefde sonder bybedoelings. Steeds voel ek wel geroepe om die liturgie wat haar of iemand anders moontlik op ’n Sondag vreemd kan laat voel, op so ’n manier buite die erediens te lewe dat sy welkom voel by my.

Ons wil so graag mense Sondae in die erediens laat welkom voel. En dit is goed. Ek dink egter nie ons gaan dit doen deur die liturgie uit te gooi nie. Ons lywe het die liturgie nodig, selfs al mag dit ook freaky wees. Ek dink ons gaan dit eerder doen deur die liturgie te lewe sodat mense in die lewe welkom by ons voel – en selfs dit, as ons dit reg doen, kan nogals freaky lyk.

Vandag hoor ek ‘n uitnodiging aan ons elkeen (nie net as lede van die kerk nie, maar as die kerk self):

Lean into your freaky.

Want freaky mag dalk net mooi een van die beste dinge wees wat ons het om te bied.

*Skuilnaam

“Vóór Covid het ons, maar ná …”

Mens kan seker maar sê dat ek dit my besigheid maak om te weet wat ander mense dink en doen. Veral in die kerk.

Voordat jy dink ek is net nog ‘n “busy-body”: ek hou van navorsing. Só baie dat ek einde laasjaar ‘n tree terug van die bediening as predikant gegee het en hierdie jaar baie meer navorsing op verskeie terreine doen. Nou is ‘n groot deel van my bestaan die uitvind, uitvis, uit’figure’ van mense se doen en late.

Einde laasjaar moes ek dus oorgee aan ‘n nuwe jeugwerker. Hy is ‘n skerp man met baie vrae. Daar is natuurlik niks hiermee verkeerd nie, maar op een punt het ek egter so skaam gekry. So baie antwoorde op sy vrae het gegaan in die rigting van: “Voor Covid het ons dit gedoen, maar na Covid kon ons nie meer nie / het ons nie meer nie / het ons gesukkel” (of iets dergeliks soos dit).

Op ‘n stadium, in alle erns, het daar ‘n klein stukkie self-verwyt in my hart ingekruip omdat ek nie al die vrae kon antwoord soos wat ek graag sou wou nie.

Dit is maar byna 6 weke in die jaar in en die hoeveelheid kere wat ek daardie sinne wat ek self geuiter het, by ander (dominees of te not) gehoor het, is verstommend. Dalk het ek dit al voorheen gehoor, maar net nie opgelet nie. Waar ek kom, weerklink die refrein: Ryk gemeentes, arm gemeentes, dominees wat bekend is vir ‘fluks’ wees en dominees oor wie jy soms wonder, dominees wat alleen in die gemeente staan en dominees wat in spanne kan saamwerk. Covid was (is?) ‘n bok. En ‘n bok is ‘n bliksem.

Ek skryf hierdie sodat jy saam met my ‘n sug van verligting kan uitblaas, want miskien het jou Skuld-klier ook hard gewerk die afgelope twee jaar. Miskien het jy ook, nes ek, ‘n gevoel van teleurstelling dat dinge nie kon verloop soos wat jy graag sou hê dit moes nie.

Natuurlik is Covid nie ‘n verskoning dat ons net op ons louere kan rus nie. Natuurlik is dit deel van ons roeping om te antwoord op hierdie tye in ons lewe, maar ons bly mense, in liggame. Liggame wie se kapasiteit oorskry kan word en wanneer dit gebeur, noem ons dit trauma. Ons liggame en die Liggaam se kapasiteit vir aanpassing is regtig getoets die afgelope 2 jaar en ek haal my hoed af vir elkeen wat in hierdie tyd innoverend kon dink, maar vanmore dink ek aan jou wat nes ek soms net plein-weg gesukkel het.

In een gesprek deel ‘n dominee hul skuldgevoel: “Ons het byvoorbeeld nie suurstofmasjiene by ons kerk nie” (verwysende na ‘n gemeente wat wel suurstofmasjiene aangeskaf en beskikbaar gestel het). Ek onthou hoe ek myself ook kasty het vir die feit dat ons nie daaraan gedink het nie….

So vir almal wat aan suurstofmasjiene gedink het: Geluk! Julle het gedoen wat julle kon in ‘n traumatiese tyd.

En vir almal wat nie aan suurstofmasjiene gedink het nie, wil ek ook sê: Geluk! Ek weet dit lyk anders as wat jy sou wou, maar ek vertrou ook julle het gedoen wat julle kon in ‘n traumatiese tyd.

Geriatriese swangerskappe

“I suppose it’s like the ticking crocodile, isn’t it? Time is chasing after all of us, isn’t that right?” – Finding Neverland

Eendag, op ’n eiland wat ek en jy na alle waarskynlikheid nooit sal sien nie, het ’n krokodil ’n smulhap van ’n hand geneem – en daarmee saam ’n horlosie as bykos. Kaptein Hook was onbeïndruk. Sedertdien jaag die krokodil agter die Kaptein aan met die hoop om sy ete af te handel, maar die Kaptein is elke keer gewaarsku deur die klank van die horlosie wat steeds in die krokodil se maag getik-tik-tik het. Die klank het hom met vrees gevul. ’n Doodsangs.

Baie van ons is bang vir tyd, vir oudword, vir die dood selfs, maar daar is ’n groep onder ons wat hierdie getik-tik-tik anders hoor. Dis ’n tik-tik-tik wat in die maag gaan sit. Nee. In die baarmoeder. En vir die vroue wat niks behalwe dié geluid hoor nie, is dit angswekkend.

“Het ons geweet?” vertel my fiksheidsinstruktrise verontwaardig, “dat vrouens wat oor die ouderdom van 35 swanger word, se swangerskappe as geriatriese swangerskappe bekendstaan?”

“Werklik?”

“Asof ek nie klaar geweet het dat ek oor die muur is nie?!”

Sy, kom ons noem haar Wendy, is 37. Om die waarheid te sê het ons gister eers ontmoet. Ek ken nie haar geraamtes of geite nie. Ek het geen idee hoekom sy nog enkellopend is nie, maar vir die duur van ’n gemiddelde skemerkelkie (en ek drink stadig), het ek gesien hoe haar maag (is dit haar maag?) van vrees draai.

“Waar moet ek ’n man ontmoet? Ek werk by die huis en dan kom gee ek vir ’n spul vroue klas…” haar sin verdwyn in die rookdampe om haar.

“Wil jy ooit kinders hê?” vra iemand anders.

Sy weet nie. Pouse. Wat as sy nou besluit dat sy kinders wil hê en dan kan sy nie kinders kry nie?

Soos ek terugry, sit Wendy op my siel. Die vrou wat so graag ’n familie wil hê, maar te bang is om daarvan te droom. Sy is nie die enigste wie ek ken nie. Ek ken ander Wendy’s wat die idee van kinders kry al laat vaar het. Dáárdie krokodil het alreeds opgevang. Die droom is egter steeds lewendig.

En so wat sê ek, wie nog nie daar is nie (en moontlik nie eens kinders wil hê nie) vir so iemand? Niks. Ek sê niks nie. Want ek kan nie. Ek weier om vir haar te sê dat dit gaan kom wanneer sy dit die minste verwag. Ek weier om te sê dat dinge sal gebeur as dit moet gebeur. Ek weier, want ek weet nie.

As jy soos Wendy is, wat byna te bang is om te droom van kinders, is ek jammer. Ek wil graag langs jou sit. En as jy iemand soos ek is, wat te ver verwyder staan, wil ek jou nooi om saam met my ’n oomblik van stilte te hê. ’n Oomblik van stilte vir jong babas wat sterf, vir stilgeboortes, miskrame en aborsies. En vandag, ’n oomblik van stilte vir die kinders wat maar net ’n gedagte bly vir die Wendy’s tussen ons.

Haar stories

Ek het nog nie veel tyd in my lewe gebruik om oor haarkappers te besin nie – behalwe daardie één keer toe ’n haarkapper in Vredendal ’n uur lank gearbei het net om teleurstelling en weersin aan my kant te laat posvat. Oor die algemeen is haarsny vir my ’n funksionele saak. Vandag dink ek egter goed en lank oor haarkappers. Oor vier haarkappers, om spesifiek te wees.

Die eerste haarkapper ken ek nou al vandag ek 9 is.  Vir die afgelope 21 jaar deel my ma en dié vrou hulle geheime, resepte en stories oor die kinders. Eie aan die Italiaanse volk aan wie sy behoort, praat die vrou met haar hande – ’n gewoonte wat hare sny én gesels effe kompliseer. So Ma spandeer gewoonlik meer tyd by haar haarkapper as wat sy andersins sou, maar dit pla ma nie en sy keer elke keer terug, want hierdie vrou het oor 21 jaar ’n vriendin geword. Ma was vandag weer daar, soos elke jaar wanneer die skole begin. Dit is ’n ritueel wat so gevestig is, ’n ritueel wat my ma (na my mening) nie net mooi laat voel nie, maar wat ook ingeweef is in hoe die lewe in Pretoria volgens haar lyk.

Die ding van iewers bly is dat jy oor tyd ’n tipe van ’n ‘brein’kaart begin teken met merkers van jou gunsteling eetplekke, winkels en die paaie wat die spul aan mekaar verbind. Trek jy iewers heen (soos wat ek onlangs na Stellenbosch verhuis het), word daardie kaart ewe skielik vervang met ’n leë kaart. Okay, nie heeltemal leeg nie: ek weet waar is my nuwe werk. Skielik moet ek egter Google waar my nuwe Spar gaan wees en my nuwe karwasplek. Ewe skielik moet ek op Google spring en na ’n nuwe haarkapper soek.

Só beland ek vroeg Januarie in The Boredroom, ’n chick haarkappery wat ek hoofsaaklik vir sy naam gekies het (en vir die feit dat hulle my nog op dieselfde dag kon help). Die details van hoe my nuwe haarkapper my hare sorgvuldig gesny het (anders as die Vredendal affêre van 2020), is onbelangrik. Wat van belang is, is die gevoel wat ek gehad het toe ek daar uitgestap het: ek het ’n haarkapper! Nog ’n merker op my kaart. Nog ’n stukkie van my Stellenbosch-legkaart. In daardie oomblik het ek ’n gevoel van tuiskoms gehad. Dít alles, oor ’n haarkapper.

Dit is dan g’n wonder dat my vriendin, wie onlangs met kanker gediagnoseer is en in Pretoria woonagtig is, gister ons almal in die kar gegooi het om na Dullstroom te ry om haar hare te gaan sny nie. “Dullstroom?!” vra my pa ongelowig. Ja, Dullstroom. Want wanneer jy jou hare kort sny uit vrees en in voorbereiding vir die tyd wat voorlê, doen jy dit waar jy veilig voel en by iemand wat jy ken. Haar haarkapper is lieflik en liefdevol. Hy verstaan hoe belangrik hierdie oomblik is. Hy werk sag en maak terselfdertyd seker dat ons wynglase vol bly. Ek neem ’n foto van haar blonde lokke wat by sy voete op die vloer lê. Hiérdie hare is nie gewetenloos afgesny nie, maar eerder gesnoei sodat die blom tot haar reg kan kom. Sy werk word skielik ’n liefdesdaad. ’n Liefdesdaad wat ’n groot oomblik in haar pad byna ’n mooi oomblik maak.

En dan vandag, toe ek hoor dat my haarkapper in Saldanha eergister oorlede is. In my vyf jaar in Saldanha was ek seker vyf keer by hom, maar hy was ’n dierbare mens met baie liefde en daarom ook baie honde. My Saldanha-vriendin, wie al jare lank ’n pad met hom stap, is regtig hartseer, maar sy het ook vrede. Sy dood was aan die aankom (ai die kanker…) en hier op die end het my vriendin vir hom ’n boodskap gestuur waarin sy vir hom gesê het wat hy vir haar beteken het. Nou groet sy hom vaarwel met ’n seer hart, maar met die gemoedsrus wat kom met die wete dat jy gepraat het toe jy moes praat.

Miskien is ’n haarkapper vir jou ook maar ’n funksionaliteit, maar die waarheid wat ek die afgelope week aan my eie hare gevoel het, was dat haarkappers ’n kosbare rol in ons gemeenskappe speel. So dankie aan húlle wat daar is wanneer ons met ons hande in ons hare sit.

Dergelike dertigs

Ek en dertig beloer mekaar van oorkant die vertrek. Binnekort gaan ons hand om die blaas staan. Tot en met 28 Desember verlede jaar het ek eintlik nogal uitgesien. Dertig klink so gesofistikeerd. Die twintigs is gevul met die spreekwoordelike ‘sletsappies’ en die dertigs met skemerkelkies en wyn. Die twintigs het boyfriends en die dertigs het life partners.

Kyk hoe veralgemeen ek nou. My een ouma het haar lewensmaat op 19 getrou. My broer het getrou op 24.  Buitendien, daar is geen empiriese bewyse dat ek (of enigiemand anders) meer classy gaan wees in my dertigs nie, of dat die lewe makliker, of beter, of meer sinvol gaan wees nie. En as ek om my kyk weet ek sommer dat ek besig is om bog te praat.

’n Wenk: Weet jy nie wat om vir iemand te sê nie? Het julle reeds die weer bespreek? En Korona (spaar ons tog dit)? Vra dan vir Ben Bleek of hy saamstem met Francois van Coke wat sing dat dit beter raak as jy ouer raak? Ek het al my eie informele navorsing gedoen en my bevindinge dui daarop dat mense onder 40 dink dat Van Coke al weer die kluts kwyt het, maar dan blyk dit dat diegene ouer as 40 tog met hom saamstem.

Die punt is: dalk is ek besig om die kar voor die perde te span. Dalk moet ek eerder wag tot 40 voordat ek optimisties of pessimisties raak oor ouer word. Of dalk moet ek erken dat ouderdom niks met die saak uit te waai het nie. Die lewe is te onvoorspelbaar. Kyk daar na my vriendin. Haar nuutste gunsteling grap? Sy het gehoop om ’n Ph.D. teen dertig te hê, maar nou het sy kanker teen dertig. Jy moet so bietjie ’n donker humorsin hê om saam met ons oor daardie een te glimlag.  

Terug by 28 Desember verlede jaar, die dag toe ek besef het dat ek eintlik nogal die risiko staan om soos ’n ongewillige slagoffer langs dertig te staan. Niks het op 28 Desember verander nie, buiten my eie konsep van hoe die lewe werk. (Okay dalk is dit nie niks nie). Skielik het ek die lewe as ’n pad gesien. ’n Lang pad sonder afdraaie wat beteken dat hoe dinge nóú is, dit vir ewig gaan wees. Hiermee saam kom ’n gevoel van magteloosheid en nietigheid. Dan, soos wat ek dit skryf, onthou ek: die lewe is nie ’n pad nie. Dit is ’n reeks tree. Dalk klink die twee byna dieselfde, maar vir my eie gesonde verstand het ek nodig om te weet dat ek nie op die autobahn ry nie, maar eerder bundu bash in die bosveld iewers. Elke tree bied die opsie van ’n duisend ander, nuwe tree. 

Elke keer as ek iewers bundu bash val ek sonder uitsondering iewers hard op my agterstewe. Baie ‘twintigs’. Ek weet egter dat die dertigs ook maar geskraapte knieë en rou basvelle inhou. Ek weet my drome van gesofistikeerdheid is van die deftigste lugkastele wat ek al gebou het. Maar ek wíl hand om die blaas met dertig staan! Nie omdat dit beter gaan raak soos ek ouer raak het nie, maar omdat ek vrede met die aard van die lewe gemaak het. Die lewe gooi waarskynlik vir ons so mengsel van ‘sletsappie’ en skemerkelkie (en as ons regtig ongelukkig is, soms Jagermeister) in, ongeag of ons in ons twintigs, dertigs, of tagtigs is. Met matigheid, maats en op die maat van musiek, behoort ons seker ook deur dit te kom – hopelik met so min as moontlik hoofpyn. 

Vir vreesaanjaende breine

Jou brein kan ‘n vreesaanjaende plek wees. Laat ek liewer praat waarvan ek weet: my brein kan ‘n vreesaanjaende plek wees. Daar is doolhowe in groeiende duisternis en as ek myself nie betyds vang nie, is ek diep verdwaald.

Ek is eintlik trots op my self-kennis en self-regulering. Meeste dae. Daarom is dit vir my soveel slegter as ek myself nie verstaan nie, nie gereguleer kry nie. Dit is dán wanneer ek bang word.

Om self jou brein te moet verstaan en te bestuur is een ding. Maar wat as jy iemand anders moet help verstaan? Wat as jy moet verduidelik wat jy skrams verstaan? Praat van vreesaanjaend…

Oor die jare het ek al geleer om iets van die doolhowe in my brein en my gemoed, sowel as my behoeftes, te kommunikeer aan familie en vriende. Maar die afgelope tyd moet ek weer opnuut my brein vertaal aan ‘n ander en soms, moet ek bely, het ek nie die taal nie.

Die beste wat ek weet om te doen is om in my beperkte taal te sê wat ek kan, en dan te wag… wag vir hul reaksie. Daar is soveel maniere waarop hulle kan reageer en my brein verwag mos dikwels die ergste.

Hoe mooi dan, is daardie oomblik wanneer jou brein en sy doolhowe met sagte oë en hande ontvang word nie? Onsekere hande selfs, maar nie harde hande nie. Nie vuiste nie.

Nie almal lewe met angs en doolhof breine nie. Vir party mense is dinge maar net straight forward. Ek laat my wel nie vertel dat ons almal nie soms met naakte brein voor ‘n ander moet staan en dan bid vir sagte oë nie.

Vanaand is ek dankbaar vir sagte oë en sagte hande. En vandag bid ek dit vir jou toe. Mag jou brein veilig in die blik van ‘n ander wees.

Hoe weet jy?

“Maar hoe het ma geweet dat ma die regte persoon trou?” het ek as kind met groot oë gevra. “Hoe het tannie geweet?” “Wat het jou laat besluit om hierdie persoon te trou?” Ek vra hierdie vrae al my hele lewe lank en ag! as ek maar net ‘n Rand kon kry vir elke vae antwoord van “As jy weet, dan weet jy.”

Gister het iemand dieselfde woorde gesê. Behalwe hulle het bedoel: as jy weet die verhouding gaan nie werk nie, dan weet jy. Hierdie weet-net-stories is vir my problematies om die minste te sê.

Laat ek verduidelik: Ek onthou ek was laerskool toe ek vir een oom gevra het: “Maar oom het net geweet met oom se eerste vrou en dit het nie uitgewerk nie, so hoe kan mens seker wees?” Ek onthou die gevoel in die vertrek meer as sy antwoord. Maar deur al die jare bly dit my punt: baie mense het net “geweet” en toe weet hulle nie later meer so mooi nie. Toe weet hulle presies die teenoorgestelde selfs.

Ek het nou die dag met ‘n egpaar oor 60 gepraat wat jare terug na slegs 5 maande verloof geraak het. Hulle het net geweet. Ek het nou die dag gepraat met iemand wat vinnig getrou het en vinnig geskei het. Hulle het ook geweet. Daar is natuurlik diegene wat sê dat hulle vroeë tekens geïgnoreer het, dat hulle meer wou weet as dat hulle in werklikheid geweet het. Maar daar is die wat opreg gedink het this is it.

As ‘n ongetroude buitestander is dit vreesaanjaend dat niemand – of ten minste min mense – vir my taal het om my te help weet hoe ek ook eendag kan weet nie. Mens kan dit seker die misterie van die liefde noem, maar ek is ‘n Jane Austen aanhanger. Waar Elizabeth weet omdat Darcy karakter toon. Waar Emma weet omdat Knightley eerlik met haar is. Waar Elinor weet omdat hulle geaardhede pas en Marianne omdat Brandon lojaal en betroubaar is. Dít is die stories wat ek wil hoor van die mense rondom my, die bakens wat my kan help weet waarvoor om uit te kyk. Dis bakens wat ek vir die tieners met wie ek werk wil kan oordra terwyl ek die kans het.

Is daar wysheid te vind in die morsigheid van regte-lewe-liefde wat nie altyd redes kan vaspen soos die klassieke skrywers nie? Ek hou van die idee dat ek altyd probeer om my beste te doen met die inligting tot my beskikking. Want wat ek weet, verander konstant. Socrates het sy troos en wysheid in sy onkunde gevind. Dalk kan ek ook en weet dat ongeag wie ek eendag kies, dit ‘n waagstuk gaan wees. Die lewe is te onvoorspelbaar. En dalk, as jy dít weet, weet jy of iemand die waag werd is.