Flatervry

Ek word Dinsdag 29. My laaste jaar in my twintigs. Die twintigs het my goed hanteer. Baie goed. As Francois van Coke reg is en dit inderdaad beter raak as jy ouer raak, dan kan hierdie storie mos nou net lekker wees. Maar ek is gelukkig, ek weet. Gelukkig, geseënd, of watter woord jy ook al verkies.

Ek ken baie mense wie se 20s nie vir hulle goed was nie. Wat 20s geken het aan trauma: aan egskeiding(s), aan dood, aan werkloosheid, aan finansiële uitdagings, aan eensaamheid, aan siekte. Ek is altyd sensitief vir hierdie stories. En dan gooi Facebook vandag vir my hierdie woorde: “As long as you stay close to God, your job, the person you marry, where you live, what you do, will all work out perfectly, don’t worry.”

Sjoe. Ek dink aan hoeveel gemoedsrus hierdie sin vir so baie mense moet bring. Ongelukkig glo ek ook dat dit bloot net nie waar is nie. Nie as ek luister na die stories rondom my nie. Nie as as ek dink aan die mense wat opreg na God gesoek het en steeds hulself voor die prokureurs gevind het nie, die mense wat hande in die hare na werk soek nie. Hoeveel keer moes ek nie al verwytend vertel word dat iemand “alles reg” gedoen het soos wat die kerk gesê het, en dat dinge dan steeds nie uitgewerk het nie?

In ‘n wêreld waar geloof soms verkoop word as die flatervrye resep vir die lewe moet ons as Christene juis getuig dat God se genade nie in die afwesigheid van flaters, floppe en f-oppe lê nie, maar in die pad wat vanuit daardie oomblikke in ‘n toekoms van hoop in loop. Waar perfeksie as die ideaal verkoop word, moet ons, kruis in die hand en hart, die kwaliteit van daardie produk bevraagteken. Geloof is geen waarborg vir ‘n maklike lewe nie. Dit kan nie, moet nie, moes nog nooit, die punt gewees het nie.

Dat dinge ten goede sal meewerk, ja dit glo ek. Maar dit is iets heeltemal anders as “perfek” uitwerk. Perfek is die afgod van ons tyd waarteen ons ons kinders moet waarsku, wat ons moet verafsku soos die vyand wat dit is. Die vyand wat vernietig wat reeds goed genoeg is.

Ek bevind myself tans op ‘n paar kruispaaie in my lewe en ek vang myself waar ek die “perfekte” pad wil kies. Die waarde van die pad wat ek stap, herinner ek myself egter, lê nie in die kwaliteit van die pad wat ek kies nie, maar in die manier waarop ek daardie pad aanpak. Diep oortuig is ek dat daar slaggate wag, met God aan my sy of te not. My gebed vir myself en ander is daarom nie ‘n slaggatlose pad nie. My gebed is een wat vra vir die afsterwe van ‘n onbereikbare ideaal. Vir opstanding waar die lewe sy tol eis. En vir koek op my verjaarsdae – al is dit ook nie flatervry nie.

Heksejag en unicorn bloed

Saggies trap. Versigtig. Ek waarsku jou nou. Jy met jou skerp tong. Jou tande wat kou aan ander se sagte vleis. Jou honger oë wat soek vir die gorrel. Pasop!

Jy speel met vuur en jy weet dit. Jy wil die hekse brand wat jou wêreldjie bedreig. Wat anders as jy lyk en dink. Ja ons weet watter hekse jy wil brand. Ons weet dis omdat wie hulle is groter is as wat jou ego kan hanteer. Jy sê dit gaan oor suiwer verkondiging. Ons weet dit gaan oor gulsigheid vir mag en ‘n vasklou aan ‘n bestel wat moet wyk.

O maar ek waarsku jou. Jy weet nie wat jy jag nie. Jy weet nie agter wie se bloed jy aan is nie. Jy besef nie dat jy reinheid, opregtheid, liefde en edelbaarheid se bloed wil laat vloei nie. Jy verwilder tans skoonheid vanself – en ek praat nie van voorkoms nie.

JK Rowling skryf dat unicorn bloed so suiwer is dat die een wat daarvan drink minder mens word. So ek waarsku jou. Sonder hulle, of vroue soos hulle, gaan jy minder mens wees. Meer man dalk. Maar minder mens.

Die grootste bedreiging vir ons bestaan is nie vroulikheid nie. Daar is veel groter, meer kritieke bedreigings. Soos die bloeddorstigheid van verveelde vingers en die vlamme van hulle wat wil uitwis wat groter is as hulle.

Ek vind my troos in Terry Prachett se karakter Tiffany Aking. Die heks wat geen ander keuse gehad het as om die vuur te moet aandurf nie.

“The hare runs into the fire.
The hare runs into the fire.
The fire, it takes her, she is not burned.
The fire, it takes her, she is not burned.
The hare runs into the fire.
The fire, it loves her, she is free . . .”

Die F-woord

Ek sit en praat so twee jaar terug met die tienerseuns in ons gemeente. “Hoekom sê meisies dat ons almal sleg is en dat ons almal dieselfde is? Dit is nie regverdig nie…”

Wat sê ek vir hulle? Begin ek met die belydenis dat ek self al so gepraat het?

As jy al van my vorige skrywe gelees het, dink ek nie jy sal verbaas wees nie: ek is ‘n feminis. Die groot F-woord van ons tyd wat soveel verwarring veroorsaak. In my, moet ek bely, het ek soms ‘n diepe frustrasie met mans. Maar laat ek kategories sê: ek haat nie mans nie.

Ek haat wel gereeld wat mans doen. Ek haat dit dat die grootste oorsaak van onnatuurlike sterftes van vroue, hulle mans of kêrels is. Ek haat dat ek te veel stories van verkragting en molestering ken. Soveel so dat die stories my nie eens meer skok nie. Hoe baie stories moet jy hoor dat hierdie verhale vir jou die norm word? Die ding wat jy verwag? Ek haat dit as my vriende “meisie” gebruik om iemand te beledig. Of dat daar gemeentes is wat my CV sal uitgooi net omdat ek ‘n vrou is. Ek haat die mentaliteit van baie mans as dit by die dating scene kom.

Gister praat ek met ‘n man oor feminisme en dies meer. Hy was onlangs in ‘n gesprek waar daar mense was wat gesê het “F mans” (hulle bedoel die ander F-woord). “Hoe,” vra hy “kan ons ‘F mans’ sê as baie van ons mans en seuns het? Is die welstand van mans nie ook belangrik vir die welstand van vrouens, soos wat die welstand van vrouens nodig is vir die welstand van mans nie?” Ek vind myself waar ek saamstem met hom. Ek haat dit dat daardie tienerseuns die boodskap kry dat hulle inherent sleg is. Dit is nie die boodskap wat ek sal wil uitdra nie. Hoe vereenselwig ek dit met ‘n teologie wat sê dat ook mans in die beeld van God geskep is? Ons het daardie aand ‘n goeie gesprek gehad. Ek het al sedertdien baie goeie gesprekke gehad. Slegte gesprekke ook.

Ek is ‘n feminis. Unapologetically. Maar ek is die tipe feminis wat wil hê dat mans net so vry soos vrouens moet wees. Vrouens net so vry soos mans. Ek koop in in die feminisme wat verwerp dat mans nie mag huil nie, dat hulle die broodwinner moet wees. Ek verwerp die gedagte dat mans ‘n kleiner kans staan om die kinders se toesighouer in ‘n egskeiding te word. Ek verwerp dat my vriende maklik as ‘n pedofiel gesien word as hulle met ‘n jong dogter interaksie het. Ek is so jammer oor elke man wat al gespot is of in twyfel getrek is as hy ‘n slagoffer van seksuele mishandeling was. Ek is regtig jammer as mans voel dat hulle geen plek in die samelewing het nie.

Bygesê vra ek steeds dat ek ook ‘n plek gegun word en vra ek dat julle geduld sal hê as dit beteken dat julle nie al die plek kan opneem nie. In daardie selfde asem wonder ek hoe ons as vrouens kan keer dat die pendulum nie te ver swaai nie. Soos wat ons van mans verwag om op te staan as daar sleg gepraat word oor vrouens, kan ons dieselfde doen as vrouens net sleg praat van mans?

Ek weet nog nie. Soos gewoonlik het ek nie die antwoorde nie, maar ek weet God het die mens geskep en dit was goed. Ons almal kan goed wees. Soms wens ek mans wil ‘n bietjie beter wees. Soms is ek gevul met dankbaarheid vir van die mans wie ek wel ken. Gereeld wonder ek hoe ek ‘n verantwoordelike F-woord kan wees. Die tipe F-woord wat ‘n seën is vir die hele samelewing, en nie ‘n vloek nie.

Onthou om te onthou

O wee! Daar kom dit terug. Dit is wat gebeur as jy die vraag “wat is jou eerste herinnering?” as ‘n ysbreker uitruk. Die herinnering word herroep: Ek en die seuntjie by die dagmoeder wat maak of die tafelpote ‘n kar is, hy wat weier dat ek bestuur, en ek wat van agter af oorleun en hom op die linkerarm byt. Classy stuff.

Dit is een van daardie herinneringe wat ek nie met trots oproep nie. Inteendeel. Dit is een van daardie herinneringe wat ek byna vergeet het. Byna, maar nie heeltemal nie. Daar is baie sulke stories, stories wat ek byna vergeet het, maar nie heeltemal nie. Stories wat ‘n bietjie ernstiger is as my byt-eskapades. Gewoonlik is dit ander mense se stories. Die stories van geweld, die familiegeheime, die stories wat vertel word terwyl die persoon effens inleun. Ek probeer altyd om hierdie stories so diep weg te bêre dat ek dit byna vergeet. Byna, maar nie heeltemal nie.

Om eerlik te wees sit daar ‘n paar van my eie stories in my byna-maar-nie-heeltemal-nie-boks. Stories wat netjies toegedraai is in skuldgevoel, skaamte, seer. Stories wat jy nie in my memoirs sal lees nie. Dankie tog nie. Die probleem met byna-maar-nie-heeltemal-nie-stories is juis dat hulle dikwels aan jou knaag op die mees onvoorspelbare, mees onverwagse maniere. Hulle wil onthou word, maar nie te veel nie. My onlangse ervaring is dat hierdie stories, indien jy hulle uit hul verpakking van skuldgevoel, skaamte en seer wil bevry, terugskop. Hulle is so gemaklik, so gewoond daaraan om byna vergete te wees. Die lyf het ‘n weerstand om sekere stories volkome te onthou en tog moet sekere stories onthou word. Dis hierdie groot paradoks: ons doen ons bes om te vergeet (dikwels met die hulp van drank), maar ons beste pad vorentoe is om werklik te onthou.

Ek is nog op die pad na onthou. So vir nou het ek geen antwoorde te bied nie. Net ‘n liedjie van tannie Laurika wat in my kop sing: Vergeet om te vergeet. Onthou om te onthou.

In die onthou mag ons dalk net vry word.

Uitgecreep en veilig

Gister was ek uitgecreep. Daar is nie ‘n ander woord daarvoor nie. Iemand het vir my ‘n boodskap gestuur wat ek nie net as onvanpas beskou het nie, maar wat my sommer my foon in die lig laat gooi het: ‘n fisiese reaksie op my behoefte om afstand tussen my en hierdie boodskap te hê.

Vandag praat ek met ‘n man hieroor, ‘n man vir wie ek baie respek het. Deels omdat hy altyd die beste in mense raaksien. Hy wonder of mans nie soms onbevoegd voel om te weet wat aanvaarbare gedrag teenoor vrouens is en wat nie. Ek is meer skepties van nature, maar wie weet: miskien is hy reg. So vandag wil ek graag vir die mans wat onbevoegd voel ‘n paar leidrade gee.

  1. Indien jy getroud is, is die woorde “jy is dierbaar” nie okay nie. Ook nie “verwonderd” nie. Inteendeel, indien jy werklik iets sou wou sê, hou maar liefs by: “Dankie vir jou preek.” Of selfs “Jou preek was walglik.” Ek voel dit is voldoende.
  2. Indien jy nie my kêrel of pa is nie, hoef jy my ook nie “dierbaar” te noem nie. Los dit vir wanneer ons vibe.
  3. Indien jy ‘n “oom” is, hoef jy regtig nie genoop te voel om die volgende te sê nie: “Jy kan my ‘oom’ noem, solank dit net nie ‘nee oom’ is nie.” Regtig. Net nee.
  4. Onder geen omstandighede hoef jy my oor my sekslewe uit te vra nie. Ek weet ek is ‘n dominee. Ek weet die kerk het opinies hieroor. Jy hoef nie ook ‘n opinie of die inligting te hê nie.”
  5. Indien ek nee sê, kan jy aanvaar ek bedoel wat ek sê. Ek weet wat die verskil tussen ja en nee is. Die feit dat ek ‘n kêrel moet opmaak vir jou om my nee te respekteer is minder as gewensd.
  6. Indien jy vir my ‘n drankie koop, hoef ek jou nie ‘n drukkie te gee nie. Ek aanvaar die drankie het jou geld gekos, maar my drukkies is ongelukkig nie op ‘n drankie-vir-drukkie basis beskikbaar nie.
  7. Indien jy in my belangstel, hoef jy my nie te beledig nie. Ek weet dit is wat Barney Stinson op ‘How I met your mother’ aanbeveel, maar dit is toe nou nie die beste manier om my in jou sak te kry nie. Skrap dit: moenie probeer om my “in jou sak” te kry nie.
  8. Indien jy met my wil praat, is jy welkom om self na my toe te loop en my te groet. Die hele “Hey jy! Kom hier!” is toe nou nie die ideaal nie.
  9. Indien ek jou nie met ‘n drukkie wil groet nie, hoef jy my nie stuck up te noem nie. Net ‘n gedagte. Kou daaraan.
  10. Ek het rooi skoene. Dis waar. Ek hou van my rooi skoene. Jy hoef wel nie hardop te wonder of my voete skaam kry as ek dit dra nie. Regtig. Dis net rooi skoene. Jy gaan okay wees.

Soos ek hierdie skryf, wonder ek of die mans wat hierdie moet lees nie al lankal ophou lees het nie. Am I preaching to the choir? Miskien is dit dan nodig om dankie te sê vir my beste vriend wat opgestaan het as ander onvanpas van my wou praat. Vir die barman wat nooit ‘n shot gekoop het as ek my kop geskud het nie. Vir die kollega wat weet dat “Jy lyk goed” voldoende is. Vir die vreemdeling wat my hand skud. Vir my pa. Vir my broer. Vir die mans in die breë kerk wat saam met my hulle koppe skud. By hulle voel ek veilig. Is ek veilig. En dit is goud werd.

Brandewyn en Bybel

“Bederf jouself jou rowwe bliksem” lees ek op sy hemp. Brandewyn in die hand, Buffelsfontein Brandewyn se logo op sy bors. Ek sit alweer op ‘n Saterdag in die kroeg en werk. Goeie musiek. Lekker vibe. Lekker cider. Hy het eers my net gevra of hy sy sleutels, selfoon en beursie op my tafel kan los terwyl hy sy drank gaan haal. Toe ek vir hom sê dat ek binnekort moet loop, sê hy: “Eintlik het ek gekom om met jou te praat.”

Pause die storie hier. 48 uur terug het ek ‘n advertensie vir ‘n nuwe bediening vir jong volwassenes op sosiale media geplaas. Bybel en Bier by die plaaslike restaurant/bar. 24 uur terug het ek my eerste kritiek gehoor. Ek vermoed dit is nie die laaste nie.

Terug by seker 12 minute terug. Die ou voor my vertel my dat hy die advertensie op sosiale media gesien het en my gesig nou herken het. So as ek nie omgee nie, gaan hy net vir so rukkie by my staan. “Dis reg,” sê ek. So ons staan so rukkie net in stilte. “So sou jy ons wou join by Bybel en Bier?” waag ek.

Die detail van die res van die gesprek is nie hier te sprake nie. Hier is die hooftrekke: hierdie “rowwe bliksem” is ‘n Sewende Dagse Adventis. Hy is opreg oor sy soeke na God en God se wil vir sy vriende. Hy weet hy doen nie altyd die regte dinge nie, maar hy is soekend na balans tussen sy leefstyl, vol “flaws” en sy pad saam met en toewyding aan God.

Natuurlik is daar goed waaroor ons verskil. Maar my binnekant wil ontplof. Ontplof omdat ek ‘n gesprek het, ‘n mooi gesprek, ‘n sinvolle gesprek, wat ek nie andersins sou hê nie. Ek sou nie hierdie gesprek gehad het as ek nie nou in die kroeg gesit het nie. Ek sou nie die gesprek gehad het as ons nie gewys het dat ons bereid was om oor ‘n bier, of ‘n brandewyn, oor geloof te praat nie. As ons nie gewys het dat ons oop is om hierdie ruimtes te meng nie.

Ek het geen twyfel dat daar nog kritiek sal inrol nie. Maar hierdie is ook nie die enigste storie wat ek het van waar die kroeg ruimtes oopgemaak het wat ek nie andersins sou gehad het nie. Ek weet nie baie nie, maar ek weet wat elkeen van hierdie interaksies vir my beteken. Ek weet nie of iemand vir Bybel en Bier gaan opdaag nie, maar ek weet net vir vandag, was dit vir my die moeite werd. Want God, of dit mense nou gemaklik maak of nie, is hier teenwoordig. Sal ons biddend nader?

Vandag is ook Sondag

Vandag het ek iets bevrydend gedoen. Vandag is Aswoensdag.

Die feit dat hierdie twee sinne langs mekaar staan, het vir my besonders baie waarde. Ek dink al heeldag daaraan en steeds kan ek dit nie uitpluis nie. So hier gebruik ek weereens hierdie ruimte, en jou as leser, as klankbord om te verstaan.

Tradisioneel is Aswoensdag die dag waarop Christene onthou dat ons stof is, en dat ons na stof sal terugkeer. Dit is ‘n dag waarop ons aan ons eie nietigheid dink, ‘n dag van skuldbelydenis. Dit is ook die begin van Lydenstyd, ‘n periode van ses weke waarin ons inbeweeg om onsself voorberei vir Paasfees, vir die kruisiging van Jesus. Dit is ‘n tyd waarin baie van ons iets opgee wat vir ons belangrik is om ook te dink aan Christus se lyding op aarde.

Vandag is egter nie vir my ‘n dag van as nie. Vandag is vir my ‘n dag van opstanding. Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer is ek dankbaar vir hierdie Aswoensdag. Hierdie Aswoensdag wat my in die middel van my week herinner aan lyding, maar lyding wat verstaan word in die lig van die opstanding. Vandag beweeg ek deur my dag met die (moontlik ketterse) gedagte dat lydenstyd my nie net in lyding inneem nie, maar ook daaruit. Lydenstyd, Goeie Vrydag, sê vir my vandag dat ek nie nog ses weke hoef te wag om opstanding, bevryding, te beleef nie, maar dat dit ‘n gawe is wat ek nou reeds kan geniet. Omdat Christus gely het, hoef ek nie vir nog ses weke (of meer) vas te klou aan iets wat volgens my begrip vir my toksies is nie, maar kan ek juis ook dit hierdie lydenstyd opgee.

Dit is vir my vandag onmoontlik om Aswoensdag en Opstandingsondag te skei. Met vreugde beweeg ek in hierdie ses weke in, wetende dat God met my lyding geïdentifiseer het en dat ek volspoed besig is om nie net na die opstanding te beweeg nie, maar ook om daagliks vanuit die opstanding te lewe.

Met as in my hart sien ek die teken van die feniks. Ek weet nog nie wat ek hierdie lydenstyd gaan opgee nie, maar ek weet wat ek opgegee het, en vir nou ten minste, dank ek God dat ek vanuit die opstanding vandag in die as kan sit.

Waar sien jy jouself oor…?

Tinder is ‘n fassinerende plek. Deur een app oop te maak, kan jy binne minute ter gelyke tyd die mensdom oordeel en goed voel oor jouself.

Oordeel? Vra jy. Wel, Tinder verklap baie van wat mense dink belangrik is. Vat die magdom ouens wat foto’s neem waar hulle met gebulte spiere in die spieël staan en kyk. Hulle sou nie die foto’s opgesit het as hulle nie gedink het dat dit hulle in ‘n goeie lig stel nie. Die ouens gee ook almal hulle lengte. Of ten minste die lang ouens. En dan is daar dié wat die avontuur foto’s het van white river rafting en wind sailing en alles wat aktief is. ‘n Vriend vertel my dat al wat ‘n meisie is weer ‘n foto het waar sy Leeukop geklim het. Tinder vertel ons wat mense dink die beste van hulself wys.

Tinder sê wel nie net wat vir ander mense belangrik is nie, maar ook wat vir my belangrik is. Iemand quote Harry Potter en sê hulle is Ravenclaw? Swipe regs (positief). Iemand neem hul kar af? Swipe links (negatief). Iemand praat van reis? Regs. Iemand jag? Links. Dit is natuurlik snap judgements. Dit sê minder oor die mens wie ek oordeel en meer oor wie ek is en my voorkeure.

Daar is egter ‘n interessante ervaring wat ek nou die aand gehad het. In Tinder kan die ander persoon ‘n ‘bio’ skryf waar hulle sê wie hulle is en wat hulle soek. Hierdie spesifieke siel het geskryf hy soek iemand “with a life plan”. Swipe left. Nee dankie!

Ek het al opgegee op life plans in 2009 toe ek besef het dat die lewe ten spyte van al jou beplanning nog steeds sy gang gaan. Waar wil ek oor 5 jaar wees? Hmmm… hopelik is my doktorsgraad klaar. Verder durf ek niks verder sê nie. Wat van oor 10 jaar? Eerlikwaar, soos wat ek hier sit, is ek ‘n blank. Ek het natuurlik drome, maar niks wat ek te hard in ‘n werksonderhoud wil verklaar nie. Dis nie ‘n gebrek aan ambisie nie. Dis ‘n lewensfilosofie.

So hoekom skryf hieroor? Die man mag seker maar so ‘n vrou wil vind? Ek dink ek skryf hieroor want ek dink ons kultuur moet hierdie ge-5-en-10-jaar-plannery stopsit. Ek’s ernstig. Ek dink dis toksies.

In hoeveel gesprekke moes ek nou al die afgelope vier jaar sit waar daar gesê word: “Ek is nie waar ek beplan het ek in die lewe sal wees op hierdie ouderdom nie.” Ek is nie getroud, gekys, ge-kind, gesettle nie. Ergste vir my is dat hierdie persone ook nie genadig met hulleself is nie.

Die samelewing het die idee verkoop dat ons die lewe kan beplan en dan met genoeg harde werk dit kan… nee moet bereik. Vergete is die waarheid van “life is what happens while we are busy making other plans.” En dan kom ‘n pandemie, of ‘n resessie of ‘n droogte. En ander goed bly weg, soos daardie lewensmaat, geleentheid, of swangerskap. Dan is daar nie net fout met die lewe nie. Dan besluit ons sommer dat daar fout is met ons!

Ek kan nie. Ek dink nie ons hoef nie. Ek dink nie ons moet nie. Die som van die lewe is soveel meer as ons eie planne. En so is die resultaat van ons lewens ook meer as net ons eie waarde.

Hoor my mooi. Ons moet drome droom. Ambisie is goed. Maar planne wat bereik moet word sodat ek my waarde kan bewys… dít is waarteen ek gekant is.

Ek het geen idee waar ek oor 5 jaar gaan wees nie en eerlikwaar probeer ek nie te veel nagte daaroor wakker lê nie. Ek wens dieselfde vir jou. Mag jy vrede kry oor die toekoms wat jy nie op jou eie kan bepaal nie. Mag jy vreugde kry in jou hede en sy unieke onverwagse waarde. En mag jy vriendelik kyk na jou verlede wat met ander oë gedroom het. Mag jy genadig met jouself wees.

‘n 2021 Sprokie

Drup!

Dit is hoe dit begin het. So saggies soos ‘n druppel reën op die blaar van ’n boom. Drup!

Die nag toe die eerste groen mannetjies op die Aarde geval het, het niemand dit juis agtergekom nie. Niemand het juis omgegee nie. Drup! Drup! Drup!

As ek praat van groen mannetjies dink jy dalk aan mannetjies met drie oë en twee antennae. Dis nie die groen mannetjies waarvan ons hier praat nie. Hierdie mannetjies was klein, onsigbaar met die blote oog, maar met ‘n mikroskoop kon jy hulle sien: hulle ratse klein lyfies en hulle groot, ronde koppe en groen hare wat in alle rigtings gestaan het.

Die groen mannetjies het op druppels gery tot op die velle van mense en dan op hulle rondgekriewel en geklouter. Hulle het in mense se neusgate ingekruip en weeeee! Glyplank gery tot agter in hulle kele. Party mannetjies het daarvan gehou om mense se kele te kielie en dan, as die persoon sou hoes, het hulle woerts uit die persoon se mond gespring na iemand naby hulle se hande van waar hulle verder kon karjakker.

Teen die tyd wat die mense agtergekom het wat aan die gebeur is, was dit te laat. Drup! Drup! Het die mannetjies oor die Aarde neergereën. Die mense was bang vir die mannetjies. Party mannetjies het immers so rof met die mense se lywe gespeel dat hulle dit opgespeel het. So die mense het begin om in hulle huise weg te kruip om die Drup! Drup! Drup! van die mannetjies te vermy.

Daar was egter ’n groot probleem: die groen mannetjies was nie die enigste mannetjies op Aarde nie. Vir millennia al is daar ander klein, onsigbare mannetjies waarvoor mense ook bang was. Die groot en swaar blou mannetjies was net so lief daarvoor om oor mense te kriewel. Hulle het veral daarvan gehou om met mense te koppe te speel. Die blou mannetjies het meer met party mense se koppe as met ander gespeel, maar hulle sou met enigiemand se kop speel as hulle lank genoeg stil gestaan het. Dit is die ding: die blou mannetjies se handjies was so klein en swak dat hulle maklik afgeval het as iemand rondbeweeg het. Maar met dié dat mense al meer in hul huise begin bly het om die groen mannetjies te vermy, het die mense nie genoeg rondbeweeg om die blou mannetjies af te skud nie. Selfs drukkies, wat gewoonlik die blou mannetjies doodgedruk het, het nie meer gewerk nie, omdat mense te bang was dat die groen mannetjies tussen mense sal hop as hulle drukkies sou gee.  Die blou mannetjies het begin oorneem. Daar was dalk nog mense wat nie groen mannetjies op hulle gehad het nie, maar daar was bitter min mense wat nie die gewig van die blou mannetjies tot ’n meerdere of mindere mate aan hul lywe begin voel het nie.

Daar was mense wat probeer het om die groen mannetjies van mense se lywe af te haal. Hulle het groot pakke gedra sodat die mannetjies nie op hulle lywe kon spring nie. Dan was daar ook mense wat probeer het om die blou mannetjies van ander mense se lywe af te haal, maar hiervoor was daar geen oorpak nie. Geen materiaal kon die blou mannetjies keer nie. So partykeer het hierdie mense, wanneer hulle gesien het hoeveel blou mannetjies daar in die wêreld is, afgekyk om te sien dat daar ook blou mannetjies teen hul arms op hardloop, reg om met hulle koppe te speel.

En wat het hierdie persone dan te doen gestaan? Hulle kon natuurlik rondbeweeg (soveel soos hulle mog/kon) of hulle kon pilletjies drink wat hulle hare en koppe te glad maak vir die mannetjies om op hul koppe te staan. Hulle kon ook klein storietjies skryf om hulle te herinner dat daar nog steeds groter goed as groen en blou mannetjies was (en is):
soos geel vlinders en bruin hondjies,
soos regte, harde reën en denkbeeldige, wolkagtige lugkastele,
soos bitter sjokolade en soete slaap
tot die volgende dag, wanneer ons weer probeer…

Stokperdjies

Ek hou nie van alleen in my woonstel wees nie. Ek is mal oor my woonstel, maar ek hou nie daarvan om alleen hier te wees nie. Ek sal alleen gaan uiteet, alleen gaan vakansie hou, alleen gaan fliek, ek het selfs al alleen gaan dans. Maar ek ry nie alleen tandem nie en ek sit nie alleen by my huis as ek dit nie kan help nie.

Partykeer kan mens dit nie help nie. Vandag is dag 14 sedert my laaste kontak met iemand wat positief getoets het vir Korona. Vir die grootste gedeelte van die afgelope twee weke was ek onder kwarantyn. Ek moet sê, dit het beter gegaan as wat ek verwag het. Een: omdat J gereeld op my stoep kom sit het terwyl ek in die huis was en dan kon ons darem so kuier. Maar twee: omdat ek weer my stokperdjies herontdek het.

Vanaand, soos wat ek oor stokperdjies reflekteer het, het ek besef dat my stokperdjies baie persoonlik is. Nie omdat dit baie van my sê nie (dit ook), maar omdat dit ook baie van my ouers en groter familie sê.

Jy sien dalk byvoorbeeld net dat ek lief is vir skryf, maar in my kop is daar my oupa M se opgemaakte stories van Voëltjie Toëltjie en Wurmpie Turmpie, my oupa S se liefde vir woorde wat lekker speel en van die tong af rol, en my pa se aanmoediging om tikklasse te neem.

Of wat van my liefde vir lees? Staan dit afsonderlik van die honderde boeke wat my familie vir my gelees het? My ouma L wat dieselfde boeke tot vervelens toe moes lees of my ouma M wat Jakkals en Wolf stories opgeneem het? Staan dit apart van my pa wat vir my geld geleen het om my eerste Engelse boek te koop en nooit die geld terug gevra het nie?

Wat van die Franse boeke? Dit is tog sekerlik ek wat die moeite gedoen het om die taal te leer? Of is dit my ma wat my einde Gr 7, 9 en 11 aangemoedig het om nie my droom van Frans-leer op te gee omdat ek bang is dat dit te moeilik gaan wees nie?

Die naaimasjien waarmee ek myself deesdae besig hou is natuurlik my ouma M s’n. Ek onthou hoe sy my op 7-jarige ouderdom leer kruisiesteek het en hoe sy my later geleer het om ‘n reguit lyn te stik. Die naaimasjien is hoeka ‘n erfstuk. En dis my ouma L wat my die vreugde van blokkiesraaisels en bordspeletjies geleer het. My liefde vir stap dink ek kry ek van my oupas en my ouers. Die verf en skep sommer van alle kante. So ook legkaart bou as ek dit nie mis het nie. Ek kon J leer skaak speel in dié tyd omdat my ma naweke saam met my broer by skaaktoernooie deurgebring het. Ek kan harmoniseer omdat my pa my dit leer doen het en my ouers ons aangemoedig het om koor te sing.

Die klavier verdien sy eie paragraaf sodat ek kan erkenning gee aan die heen en weer ry tussen oefeninge en optredes. Dis meer as dit. Dis my ma se senuwees as sy weet hoe min ek geoefen het, en my trane omdat ek stres en met niks anders sal gaan speel as my pantoffels nie. Die ure van troos. En die oomblik toe my ma geweet het dat optredes vir nou eers iets van die verlede is. Dit is eers toé dat ek werklik begin speel het.

En tussendeur dit alles preek ek voor ‘n kamera: die resultaat van drama-klasse en redenaarskompetisies. Ek onthou pa het my eerste redenaarstoespraak geskryf en ek het gehuil omdat ek nie verstaan het wat in Nagasaki gebeur het nie en dit is ‘n baie moeilike woord as jy sewe is. En my ma wat my leer om Truitjie Trane op te sê sodat dit klink asof ek dit vir die eerste keer sê.

Ek skryf al hierdie op met diepe dankbaarheid vir die geleenthede wat oor die jare aan my gegun is. Dit laat my wonder wat privilege is. Is dit net wat ons fisies in ons hand het? Of is dit ook die wete dat ses volwassenes (ooms en tannies uitgesluit) belê het in my toekoms? Ek wonder hoeveel kinders in Suid-Afrika het twee volwassenes? Een? Ek wonder hoe ek so ‘n volwassene kan wees vir my broerskind? Of vir enige ander kind? Ek wonder oor vroeë kinderontwikkeling en die belang daarvan.

Wat ek bedoel het as ‘n eenvoudige refleksie op die herontdekking van my stokperdjies, vul my nou met diepe dankbaarheid teenoor my village. Ek is sowaar geseën, maar ons word geseën om ‘n seën vir ander te wees. So indien ek myself nou weer tussen ander bevind, wonder ek hoe ek dit wat aan my geskenk is optimaal kan gebruik om ook ‘n seën aan ander te wees. Want ons is ‘n village gegee vir ‘n rede.