Die tydelikheid van blikoopmakers

Party dinge hou net nie meer lank in vandag se tyd nie. Soos ‘n blikoopmaker. Tien jaar terug, op 18 Januarie 2011, het ek ‘n blikoopmaker gekoop. My nuwe vriendin se kommune het nie ‘n blikoopmaker gehad nie en sy het verjaar. Die kombinasie het logies genoeg gelyk. Sy het darem van die geskenk gehou, of so sê sy.

Ons vriendskap het uit dieselfde twee goed gevloei wat maak dat jy vir iemand ‘n blikoopmaker vir hulle verjaarsdag koop: want dis nodig en dis gerieflik. Ons het altwee iemand nodig gehad om saam met ons in klasse te sit en ons was, op ‘n vreemde manier, mekaar se gerieflikste opsies.

Die proses van vriendin-word was tydsaam, verrassend, vol baba-stappies en diep gesprekke (O ja en dans!). Stelselmatig het die vriendskap só verander dat sy nou ‘n onontbeerlike deel van my lewe is…amper so waardevol soos ‘n blikoopmaker, maar net met meer emosies.

Ek weet die blikoopmaker het iewers oor die afgelope 10 jaar gebreek en ek weet ek het dit vir haar en haar man vervang as ek reg onthou. Party dinge hou net nie meer lank in vandag se tyd nie. Soos ‘n blikoopmaker. Ek is seker hulle huidige model sal ook breek. En die een daarna. Ek sien uit daarna om dit elke keer te vervang.

Vuur en Flam

Ek onthou dit soos gister. Ek sit ek in my kar en huil. Daar is ‘n krisis om te hanteer en die trane stroom oor my wange terwyl ek vir die volgende stel instruksies wag. “Dis okay,” troos ek myself. Volgende keer vaar ek beter.

Dit is vier jaar se ervaringe, se gryshare en troebelwaters later. Tog vang ek myself gisteraand weer waar ek my ouers 03h00 die oggend wakker bel. Soos ‘n kind wat in middernagtelike ure in hul ouers se bed gaan inkruip, soek ek beskutting van die besluite wat ek moet neem. Van die realiteit wat bedreigend te voorskyn kom. Die skaamte…

Ek kyk na my boeke en ek wens hulle was spieëls. Ek wens die helde en heldinne het meer soos ek gelyk. Of eerder ek soos hulle. Het ek die moed om die ring te vernietig soos Frodo? Myself te laat sterf soos Harry? My ydelheid te laat afknip soos Jo March? My drome opsy te sit ter wille van ander soos Anne Shirley? My kop hoog te hou soos Anne Frank? My klere uit te trek soos Racheltjie de Beer? My trane te sluk soos Gezina se ma voor n brandende huis? Aan te hou roei soos Pi Patel?

Ek is nie daardie tipe sterk nie. My trane sit vlak, my emosies soos ‘n veer in die wind. My gemoed, ‘n wipplank.

Brené Brown beweer weerloosheid is okay, selfs goed. Die Bybel sê as ek swak is, is ek sterk. Tog steek dit bietjie as iemand naby my saamstem dat ek nie n heks soos Tiffany Aking is nie. Tiffany Aking (in I shall wear midnight) wat in haar dorp alles doen wat niemand anders kans sien om te doen nie, maar wat gedoen moet word. Sy doen dit so goed. So sterk. So sonder trane. Sy hardloop in die vuur in. En die vuur brand haar nie.

Miskien is dit hoekom ons helde en heldinne in boeke nodig het. Miskien wil ons juis glo dat daar mense is wat kan doen wat meeste van ons nie kan nie. Mense wat sterker is as ons. Want dan voel ons minder swak. Nietemin het hierdie helde en heldinne my al gevorm om tog die vuur aan te durf. Al lek die vuurtonge my. Al los dit letsels.

Oor vier jaar probeer ons weer…

Aan Die Professor

En so is daar nog ‘n negatiewe artikel van die NG kerk op die voorblad van ‘n koerant wat na my mening grens aan poniekoerant status. Hierdie is nie nog ‘n blog gerig op die joernalistiek nie. Vandag wonder ek oor een van die lesers.

Ek het ‘n Facebook vriend wat eintlik ‘n vriend van my pa is. Ek ken hom as hoogs intelligent. ‘n Filosoof. ‘n Akademikus. Ek ken hom as iemand wat posts maak oor betroubare navorsing, vir wie feite belangrik is. Ek het ook agtergekom dat hy uiters negatief is oor die kerk en, ek dink, Christenskap.

So wanneer Die Professor ‘n post aanhaal wat na die artikel verwys om te sê hoe sleg die kerk is, is ek verbaas. Verbaas omdat ek nie dink dat hy Rapport in ‘n tesis as betroubare bron sou aanvaar nie. So hoekom nou dit as bron gebruik?

Ontken ek die spanning in die kerk? Nee. Ontken ek sy reg om kwaad vir die kerk te wees? Nee, ek voel dan self so partykeer! Ontken ek die ervaringe wat hom gelei het tot op die punt waar hy so oor die kerk voel? Ook nie.

Maar wanneer jy die kerk as eng beskryf sien ek hoe die stemme van menigte teoloë wat ek persoonlik ken, verdwyn. Raai wat? Die kerk van jou kinderdae het in menigte gemeentes uitgesterf.

Dit kom neer op daardie sinnetjie van “Christene glo…” of “Christene is”. Christene glo of is niks. Nie in vandag se tye nie. Party Christene glo x, maar ander Christene glo y. Party Christene is dit, maar ander Christene is beslis dat. Daar is natuurlik ‘n paar ooreenstemminge, maar die diversiteit is verstommend en moet erken word.

Hierdie diversiteit is vir baie die grootste bedreiging in die kerk tans. Die feit dat sommige in die kerk van skeur praat (en glo my dis nie wat ek vir die kerk bid nie) is juis ‘n aanduiding dat ons almal nie dieselfde dink nie. Dalk laat dit jou wonder oor ons geloofwaardigheid. Dit laat my wonder oor ons menslikheid en unieke soeke na die God wat groter as enige een persoon se teologie is.

My punt is: ons almal is nie patriargaal nie. Ons almal is nie homofobies nie. Ons almal glo nie Moslems is the worst nie en ons almal is nie gemaklik met ons eie rassisme nie. Ons almal is nie anti-Wetenskap nie en ons almal glo beslis nie dat die Corona inenting die teken van die dier is nie. Ons almal oordeel nie mense wat seks voor die huwelik het nie en ons almal wil nie jou net hel toe stuur vir wat jy nie glo nie.

So as jy die Rapport as bron wil gebruik. Gaan gerus voort. Maar doen ons ‘n guns en luister na ander stemme ook. As jy dan nog steeds teen die kerk wil wees, sal ek saam met jou rou.

Die Professor het jare gelede vir my gesê ek moet ‘n onderwyseres word. My aspirasies vir die akademie wat hy en my pa in my losgemaak het, is seker naby genoeg. So, met my hart in die akademie, is al wat ek vra ‘n bietjie deeglike navorsing voor gevolgtrekkings getrek word.

‘n Opiniestuk

Ek voel naar. Dit is mos wat gebeur as jy iemand anders se braaksel sien, wanneer hulle binnegoed in die publiek ingegooi word.

Dis nou al jare wat ek ‘n sekere nuusverskaffer in die land boikot. Soms voel ek oningelig as mense van die rubrieke en stories praat, maar ek voel dis ‘n klein prys om te betaal. Sien, ek is lankal moeg vir voorbladstories oor ouers wat per ongeluk oor hul kinders ry, mense wat per ongeluk stoute foto’s lek, of mense wat die kat in die donker knyp. Ek is moeg vir die lui, sensasionele vergryp na mense se privaatlewens in die naam van nuus. En ek is moeg daarvoor om dié stories vir ‘n bladsy en ‘n half te moet lees terwyl daar stories oor geslagsgeweld, armoede, korrupsie, ESKOM, SAL, of selfs wiskunde matriekeksamens is.

Vertel my, jy wat jou ink op hierdie stories mors: is die sielkundige effek van jou stories op beide betrokke partye en lesers die verkope werd? Het jou glashuis shatterproof vensters? Dink jy ooit aan die kinders wat seerkry omdat jy skynbaar hierdie storie moet vertel?

Veronderstel jy is reg en dat die storie wel vertel moet word (alhoewel ek dit sterk betwyfel). Is dit dan regtig nodig om mense se diepste binnegoed te gaan uithaal? Ek skryf die afgelope 2 weke mense se stories neer en ek het geleer dat ek die waarheid kan praat en subtiel en respekvol daarmee te werk kan gaan. Watter verskil maak dit aan jou lesers wat die detail is, buiten vir opstook of ontstel? Is dit nie genoeg om die basiese feite te vertel nie? Of gaan dit nie jou koerant se bladsy volmaak nie?

Ek sal saamstem dat die partye verkeerd is. Ek sal saamstem dat geregtigheid moet geskied. Maar is jou storie geregtigheid? Of gulsigheid?

So nee. Ek sal maar nog ‘n ruk lank oningelig bly, wetende dat dit maar genade is dat ek is waar ek is in die lewe. En ek sal lief hê vir hulle wat nie liefhet nie.

Foute…

Oor die afgelope twee weke het ek nou al verskeie kere probeer om oor foute te skryf. Iets nuut by te dra tot die gesprek.

Ek het niks.

Ek het clichés. Soos dat foute ons maak wie ons is en ons sterker maak. Soos dat spyt nie sinvol is nie en dat ons genadig met onsself moet wees.

Hierdie clichés is waar… maar ek het ook gevind dat hul waarde beperk is. Want dit help my nog steeds nie om te weet wat ek moet doen wanneer ek ‘n groot fout begaan het nie.

Ek dink aan al die raad wat ek oor die jare oor foute gekry het:

Begin oor, soos wanneer jy rys in die mikrogolfoond op defrost probeer kook het. Hou net aan, soos wanneer jou vingers die verkeerde note op die klavier vind, of jou tong in redenaars knoop. Maak dit reg, soos wanneer jy verf. Maak op daarvoor, soos wanneer jy ‘n punt afstaan in netbal. Of eerder: hou op daarmee, soos wanneer jy netbal probeer speel. Wees eerlik daaroor, soos wanneer jy jou ma se bak breek. Maak ‘n ander plan, soos wanneer jy ‘n fout in jou skaakspel maak. Leer daaruit, soos wanneer jy ‘n fout gemaak het in ‘n toets. Lag vir jouself, soos wanneer jy per ongeluk iets kwyt raak wat mens nie herhaal nie.

Lyk my die antwoord is wat die antwoord altyd is as dit by moeilike temas kom: daar is nie net een antwoord nie. Tog reken ek dat die antwoord, ten minste vir my, daarin lê om net iets te doen. Stilstaan is vir as jy ‘n slang sien of vir as jou ma jou daai kyk in die kerk gee. Maar stilstaan by ‘n fout veroorsaak verlamming en skuld en skaamte.

Allermins probeer ek sê dat ons dit moet ignoreer, maar daardie foute wat ons in ons dieet begaan kan immers net vewerk word as ons aan die beweeg kom. Of jy nou drentel of draf.

Ek skryf natuurlik al hierdie omdat ek soms self verlam voel deur die foute wat ek maak. Ek weet net ek kan nie by hulle stilstaan nie. Ek weet ek moet beweeg, al moet ek hulle vir ‘n tyd lank saamdra. En ek weet dat ek, in my doelbewuste beweeg, hulle sal kan afwerk. Solank ek net iets daaraan doen.

Seuns? Of mans?

Party dae het ek ‘n sterk behoefte om oor die mense van Saldanha te skryf. Om gesigte aan die karikature te sit. Soos vandag.

Vandag wil ek skryf oor die jongmans waarmee ek werk (en by gemeenskaplike vriende se huis kuier). So in geen spesifieke volgorde nie wil ek julle vertel van die jong mans wat maar die afgelope twee weke alleen my pad gekruis het.

Soos die jong man wat twee jaar terug nog onder my arm gepas het en na wie ek nou opkyk as ek met hom praat. Hy het die beste frons in die wêreld. Sy maniere en integriteit is tweede en derde beste.

Hy is beste vriende met ‘n tweeling. Die een stel altyd sy stoutighede in sulke subtiele terme, maar hy laat my altyd glimlag. Sy broer, die popster doppleganger, kom sit altyd so stil langs my en dan gesels ons dieper dinge.

Hulle is weer vriende met ‘n jonger siel. Een wat so sweef tussen al die tieners. Ook vol stuitighede maar jy kan op hom reken.

Ek dink aan die jong man wat nou al die langste betrokke is. Hy is doodstil. Totdat jy hom iets vra. Dan gee hy die diepste teologiese insigte wat sy vriende stomslaan.

Ek dink aan die sagte bulletjie van ‘n man wat ‘n natuurlike leier is en wat die grootste hart het. En sy beste vriend, die lang, rustige, intelligente man wat die lewe bepeins.

Ek glimlag vir die lang lat wat hierdie tannie eers skaars in die oë wou kyk en wat nou vir Marileen drukkies gee. Skaam, maar solid. En sy vriend wat eens net so stil was. Totdat hy besef het dat ek graag na sy stories wil luister en nou sy lekker malkoppie maniere uithaal.

Daar is die ander tweeling. Ek dink nie ek kan aan hulle dink sonder om aan hulle fietse te dink nie. En aan hulle lojaliteit teenoor hulle ma nie. Hoe die een geduldig langs my bly terwyl ek met die fiets teen ‘n heuwel probeer uitstoei en hoe die ander my van sy groot liefde vertel.

Ek dink aan die klein botteltjie gif wat nie onderskat moet word nie. Sy binnegoed skyn deur. Jy kan sien waarvan hy gemaak is.

O en die skaamtelose blondekop wat elke geleentheid gebruik om met my, wat sy ma kon wees, te flirt. Besige laaitie. Goeie hart.

Ek dink aan die jong man wat die beste drukkies op aarde gee en wat altyd diensbaar is. En die lang stiller seun wat in ‘n man ontpop het. Ek sien hoe hy by my staan en berou toon oor iets wat hy per ongeluk aangevang het. What a man.

Ag en die mees fisieke begaafde mens wie ek in my lewe gesien het. Ek hou so baie van sy vibe. Hy weet wie hy is en hy is okay daarmee.

Ek dink aan die jong seun wat skaars kon dans toe hy Gr10 was en wat nou meer sokkie as ek met sulke lang hare wat sy nek kielie. ‘n Man na elke skoonma se hart.

Mense vra my dikwels of ek ‘n man in my lewe het. En natuurlik is die man waarna hulle verwys nie dieselfde as hierdie jong mans nie. Maar ek dink tog ek kan my sterre dank dat ek hierdie jong mans kan ken. Ek wens julle kon ook.

‘n Spoeg, ‘n frons en ‘n tree terug

Dit is baie keer vir my moeilik om te weet waar om ‘n storie te begin. Jy soek iets met trefkrag wat nie die hele storie gaan weggee nie. Iets wat sal maak dat mense wil aanhou lees. Dit lyk my egter dat dit vir party mense moeilik is om te weet waar om ‘n storie te eindig.

Soos die oom wie ek nou die dag ontmoet het…

Vir minute aaneen het hy gesels. Ek dink hy het sommer ‘n monoloog op ons geoefen, want daar was hierdie performance element. Ek kyk na hom met gemengde gevoelens: moet ek opreg aanhou luister, soos ek hoort? Of kan ek maar die blog inskrywing in my kop klaar skryf?

My inspirasie vir die inskrywing kom van einste Oom. Ons gesels almal oor wat ons as predikante se roeping in hierdie tye is en Oom begin gesels oor die liggaam van Christus. In die liggaam van Christus, vertel hy ons met groot geesdriftigheid, moet elkeen doen wat hulle veronderstel is om te doen, anders is die liggaam van Christus “gebreklik”.

Hy spoeg die woord “gebreklik” uit sy mond uit en trek sy neus op terwyl hy ‘n tree terug gee. “Werklik Oom?” wonder ek. Want in my kop kom die gesigte van mense wat in die oë van die wêreld as “gebreklik” gesien word, op en my ervaring met hierdie mense is net soveel meer werd as ‘n spoeg, ‘n frons en ‘n tree terug. Dis mooi mense, mense met ‘n sin vir humor, mense met talente wat ek nie het nie, mense met ‘n massiewe kapasiteit vir liefde.

‘n Spoeg, ‘n frons, ‘n tree terug.

Ag noem my nou maar ‘n dominee, maar dadelik spring my kop na Jesus. Jesus wat op gespoeg is, Jesus wat met fronse van walging aanskou is, Jesus van wie ander mense terug getree het. Was Jesus dan ook gebreklik? Of het dit net so gelyk met sy vergruisde hande en voete, sy repies rug?

‘n Spoeg, ‘n frons, ‘n tree terug.

Oom, daar is baie erger goed in hierdie lewe as om gebreklik wees. Dink ek. Soos om salig onbewus te wees van jou eie gebreke. Soos om te spoeg in plaas van soen. Soos om te frons in plaas van bevriend. Soos om terug te tree in plaas van te nader.

Shame. Kanse is dat dit so onbewustelik was dat die Oom nie eens bedoel het om so te praat van ‘n gebreklike liggaam nie. Nietemin het ek begin dink aan die “gebreklike liggaam van God”: die spul van ons wat ons beste probeer om te doen wat ons moet, maar wat nog steeds maar vol gebreke is.

Ag Oom. Ek is seker daardie “gebreklike” oog. Meer waarskynlik ‘n blindederm – vat net soveel plek op en is by tye net so useless. Maar oom weet, dis okay. Ek dink nie God spoeg, frons of vat ‘n tree terug nie. God het dit eerder aan sy liggaam kom voel sodat ons maar net die geliefde, gebreklike, liggaam van God kan wees.

‘n Paradoksale Kersboom

‘n Kersboom moet 1 Desember opgesit word. Ten minste: dis wat ek nog altyd geglo het. Sedert 2014 is my kersboom elke jaar so liggiesboom wat ek in Amsterdam gekoop het. Dit lyk nie soos ‘n kersboom nie as jy gewonder het. Dit was egter goed genoeg vir my wat in elk geval dan elke jaar Kersfees by my ouerhuis was. Elke jaar sit ek en my ma saam die regte kersboom op en dan staan ons trots met die groot ligte af vir ons kersliggies en glimlag.

Hierdie jaar is egter my eers “grootmens Kersfees”. Dis hoe iemand dit beskryf het toe ek hulle vertel het dat ek hierdie Kersfees nie by my ouers gaan wees nie. Dis my eerste Kersfees “alleen” en vir die eerste keer in die vyf jaar sedert ek uit die huis getrek het, is dit vir my belangrik om ‘n Kersboom te hê.

Ook nie eers in Desember nie. Vir die eerste keer ooit sien ek met ‘n byna angstigheid uit na Kersfees. Ek probeer nog uitpluis presies hoekom maar ek weet dit het iets met 2020 te doen.

So ek soek nou al kersboom. Nie net enige kersboom nie. ‘n Eko-vriendelike kersboom. ‘n Bietjie kwaliteittyd saam met Google en ek besluit om vandag, 1 November, ‘n kersboom van boeke te bou.

Rondte 1 was ‘n flop. Rondte 2 het my egter aan die dink gekry… Ek was besig om ernstig te oorweeg of ek werklik Lord of the Flies (nie vir sensitiewe lesers nie) in my kersboom wil hê. Dis net daar waar ek begin oplet na die boeke in my kersboom:

Pride and Prejudice en What it is like to go to War. The Shack en The Devil and Miss Prymm. Ook die outobiografie van die Dali Lama. Frakenstein en Heidi. Top 10 Paris en An Unquiet Mind. ‘n Boek wat my oupa geskryf het en A Year of Biblical Womanhood van Rachel Held Evans. Daar is verhale wat afspeel in ou Apartheid Suid-Afrika en die Tweede Wêreldoorlog. Speurverhale en Spreuke. ‘n Reeks romanne oor molle en hulle samelewing. Geskiedenisboeke. Franse woordeboeke. Noukeurig kies ek die twee boeke vir my boonste laag: A Christmas Carol deur Charles Dickens, en Het Agterhuis, die outobiografie van Anne Frank wat tot ‘n Agterhuis ingeperk was. Sy weet van lockdown.

As ek klaar is sien ek my kersboom as ‘n toring van babbelende en diverse stemme. Party mooier as ander. Party bevestig. Ander ontwrig. En dit is in hierdie paradoksale Kersboom wat ek hoop kry in die gedagte dat Jesus kom intree het in hierdie (en soveel meer) stories. Ek vind my hoop daarin dat God ook in ons stories kom intree in 2020, selfs in die stories wat ons nie noodwendig deel van ons jaar, Kersfees of kersboom wil hê nie. O, die Goeie Tyding!

Om te Hooglied of nie?

Voor Donderdag Middag. VDM. Dis wanneer jou preek klaar voorberei moet wees. Ek verkies VDW: Vrydag Druk Werk.

So ek sit vandag en dis tyd om ‘n teks te kies vir Sondag. Ek lees deur verskeie tekste maar niks praat nie. En toe sien ek dit: Hooglied.

Hooglied? Nie almal ken Hooglied nie en met (skynbaar) goeie rede. Hooglied is daardie familielid wat ‘n verleentheid is en daarom eerder nie na ete genooi word nie. Ander ken Hooglied en giggel slinks. Hulle het al Hooglied in ‘n paar troues beleef en weet dat Mills & Boons gerus ‘n ding of twee van hierdie sensuele boek kan leer.

Hooglied is ‘n boek wat handel oor die passievolle en getroue liefde tussen ‘n jong man en vrou en die taal is dikwels saucy. Souserig soos Snopkop sou sê.

Nietemin het ek die koster laat weet dat Hooglied 2 die teks vir Sondag is en onmiddelik voel ek ietwat skaam en skuldig. Dis ‘n vreemde gevoel vir my, want ek verklaar myself gereeld as gemaklik met die tema van seks. Te gemaklik na my ma se sin.

Mag ek egter preek oor seks en intimiteit op ‘n Sondag? Of moet ek dit maar spaar vir die enkele troues waar ek oor die vrou se borste as torings durf praat?

My Calvinistiese skuld hinder my so dat ek eers my vriendin bel en vra of sy nie dink dat ek gek is nie. Gek om oor een van die goed wat die meeste van ons raak, te gesels. Net nie dit nie.

Dis eintlik so belaglik en tog vind ek myself alreeds senuweeagtig vir Sondag. Ek weet nie wat ek gaan kwytraak nie. Maar ek weet ons moet ook Sondae oor seks praat.

Ek onthou ‘n museum in Amsterdam wat onder andere oor puberteit en seks gehandel het. In ‘n bank sit ‘n seun van ek skat twaalf en kyk ‘n video oor manlike puberteit. Sy oë verstar, sy maatjies vergete, en ek dink: kan die kerk nie dit doen nie? Kan die kerk nie deelneem aan die gesprek oor ontwikkeling en seks sodat dit nie net die museums is wat daaroor praat nie?

Natuurlik is daar kerke wat hieroor praat, maar my hoop vir die kerk is dat ons verby bangmaakstories van hare-op-die-hande kan beweeg na gesprekke oor gesonde seksualiteit. Dat ons ook positief oor hierdie aspek van ons lewens kan praat, al kan ons nie met al die opinies daar buite saamstem nie. Ek is dankbaar vir elke stem wat dit reeds doen.

Vir nou sal ek my gedagtes spaar en iets bymekaar skraap vir Sondag. Die dag waarop baie mense nog so ‘n bietjie “inlê”…

Ekse en ek’s mens

Ek het onlangs met twee van my ekse kontak gehad. Nee ek was nie dronk nie. Dit het my wel laat dink oor die waarde van ekse in ons lewens. Of kom ons sê eerder: die potensiële waarde.

In alle waarheid is ekse dikwels die letsels wat ons saamdra. Partykeer omdat ons seergekry het. Partykeer omdat ons seergemaak het. Ongeag watter een, in die weerloosheid van verhoudings ontdek ons en die ander dikwels die skadukante van onsself.

Dit is ook waar vir die twee verhoudings hier ter sprake. So om weer kontak met hierdie ekse te hê, selfs al was dit jare later, was ‘n weerlose oomblik.

Beide van hierdie kontakgeleenthede het my egter aangenaam verras, want in beide gevalle was daar hierdie oomblik van opregte kommunikasie waar ons die waarde van die ander in ons lewens bevestig het.

Waar meeste mense my maar oppervlakkig ken, word my diepste skadukante versteek. Wie het egter meer ammunisie as hy wat my geheime ken en my donker gesien het? Om in daardie ruimte dan steeds bevestig te word as iemand van waarde is dan kosbaar, omdat dit ‘n (kom ons sê) ingeligte besluit is.

Verstaan my reg. Hierdie gaan nie oor hereniging nie, maar herstel. Nie oor soen nie, maar versoening. Herstel van en versoening met die ander, ja, maar ook met die self wat in daardie verhouding gestaan het (en toe nie meer nie).

Die potensiële waarde van ons ekse is om mekaar te bevestig as presies dit wat ons is: as mens, tesame met al die morsigheid en skoonheid inherent tot menswees. En daarvoor is ek dankbaar.