Insigte uit die aaklige jaar

Annus horribilis. Die aaklige jaar. Só ruk Die Kerkbode weer die Latyn bietjie uit in ’n onlangse skryfkompetisie en dit is maar blote genade dat ek verstaan wat hulle sê. Soos wat ek dit lees kan ek nie anders as om te dink aan die antieke tale nie. Kom ons wees eerlik: min dinge ontwrig die gemiddelde gestel soos ’n antieke taal. Vele studente, waaronder teologiestudente, kon al ’n hoofpyn aan die aanleer van Grieks, Hebreeus of Latyn toeskryf. Dit is die Vakke Horribilis (of wat ook al die Latynse ekwivalent mag wees).

So ek sit hier en wonder hoeveel ooreenkomste daar tussen die twee Horribilis is. Kan die insigte wat ek in my studentedae uit die Vakke Horribilis gekry het, vergelyk word met dié van die Annus?

Vir jou as leser klink dit dalk bietjie ver gevat, maar kyk maar net na die proses van ’n antieke taal aanleer: dit ontwrig jou konsep van taal en die leerkurwe skiet die hoogte in met nuwe simbole, ’n nuwe alfabet, ’n nuwe rigting van lees, en nuwe konsepte. Klink dit bekend? Natuurlik skarrel mens om te oorleef en wat volg is ’n paar inleidende insigte in die Oorlewing van die Horribilis 101. Vrae aan die einde asseblief.

Die Oorlewing van die Horribilis vra eerstens nie vir die individualis nie. Dit vra ‘n gemeenskap. Dit vra vir ’n vorm van leergemeenskappe wat saam sukkel, soek, struikel, sukses behaal. Dit het ek oral om my gesien in 2020. Mense wat saam intrek vir grendeltyd, webinars, aanlyn kursusse en sosiale media het die belang van gemeenskap in die oorlewing van die Horribilis beklemtoon.

Maar die gemeenskap moet meer as net mekaar se werk dupliseer. Snaaks, ’n dosent het ons klas sommer gou met ’n effe verhewe stemtoon ingelig dat die memorisering van ’n vertaalde teks en die duplisering daarvan in ’n toets nie as aanvaarbaar beskou word nie. Blykbaar moes ons self bietjie harde werk insit en die materiaal ons eie maak. Wie sou kon dink? Dan tref 2020 en die insigte van ander, hoe fantasties ook al, kan nie net in my gemeenskap gedupliseer word nie. Het ons nie meer as ooit geleer om navorsing te kontekstualiseer nie? Dis ten minste wat ek in die magdom vorme van eredienste, nagmaal en basaars sien.

Myns insiens was die moeilikste van Grieks en Hebreeus die feit dat ons elke Vrydag toetse geskryf het. Kom ek verduidelik. Elke Donderdagaand het die manskoshuise se klubs oopgemaak.  So elke Donderdagaand het ek en my vriendinne gaan dans en kuier en dan middernagtelike ure vinnig gesit en geleer. Donderdagaande het Vrydagoggende nie net oorleefbaar gemaak nie, maar die moeite werd. COVID moedig nou wel nie dans aan nie, maar die belangrikste insig wat ek in hierdie jaar geleer het, was dat ek soms my laptop moet toemaak en steeds, binne die nuwe aanvaarbare maatreëls, my lewe moet lei, al is dit net om kunsklasse te neem of om uit die huis te kom.

Vir my beste vriendin het die oorlewing van die Vakke Horribilis begin met die selfinsig dat sy nie ’n tale mens is nie en gevolglik moes sy daarvoor kompenseer. Haar strategie? “Hardloop so vinnig as moontlik in die muur in vas en dalk val jy oor die muur.” Haar woorde, nie myne nie. Ek onthou ’n kommune kamer waar elke oppervlak toegeplak was met Griekse verbuigings en terminologie. Haar selfinsig het haar gedryf om harder te werk en as ek reg onthou het sy Grieks geslaag met meer as 80%. 2020 het so baie van ons gedwing tot selfondersoek en, hopelik, selfinsig. Dit is slegs te danke aan hierdie selfinsig wat ons kan begin om só te werk dat ons oor die muur val – nie noodwendig omdat ons so goed is nie, maar omdat ons aanpassings gemaak het.

Natuurlik dink mens ook aan al die snaakse assosiasies wat ons gemaak het om die vreemde woorde aan te leer. Hoe snaakser die assosiasie, hoe langer onthou jy dit. Want humor werk. Humor is ’n kragtige wapen in ons arsenaal, soos wat ons duidelik gesien het in al die memes wat hierdie jaar te voorskyn gekom het. So ek dink die Horribilis nooi ons om te lag. Te lag om kreatiwiteit los te maak, om te onthou, maar ook net omdat lag goed is vir die siel.

Op die ou einde oorleef jy die Vakke Horribilis wanneer jy weet dat jy nooit alles gaan weet nie, maar dat dit wat jy nou weet genoeg is. Iewers moet jy van die boeke na praktyk skuif. Ons weet dalk nie nou alles nie, maar deel van ons oorlewing moet wees om die boeke toe te maak en die pen op te tel en te begin skryf, te begin doen. Want dáár gebeur die Oorlewing van die Horribilis.

Villages is nie kinderspeletjies nie

“It takes a village to raise a child.”

Ek het hierdie uitdrukking die eerste keer teëgekom in my eerste jaar, toe my mentor en sy vrou ’n seuntjie gehad het en ek deel geword het van sy village. Sedertdien het ek al ’n paar keer die voorreg gehad om deel te wees van jongmense se villages. Partykeer vanuit my rol as jeugpredikant en partykeer vanuit my rol as plain ou Marileen Steyn wat die awkward fake ouer sussie speel vir twee jongmense in Saldanha. Ek is mal daaroor. Dit is ’n voorreg.

Die afgelope paar weke was… kom ons sê interessant. Dit is die woord wat my fake kleinsussie gebruik wanneer sy nie weet hoe om iets te beskryf nie. Ek is hierdie paar weke baie bewus van ons villages. Vandag het ek met ’n volwassene gesels oor die feit dat ons genooi word om te kyk waar die Gees aan die werk is en daar aan te sluit. Hy het dadelik gedink aan hoe sy village baie groter is as wat hy verwag het. Vir hom beweeg die Gees in die ondersteuning wat hulle van familie, vriende en vreemdelinge in ’n krisistyd kry.

Villages is nie kinderspeletjies nie. Dis nie altyd maklik om deel van iemand se village te wees nie, maar dis ook nie net kinders wat villages nodig het nie. Dalk tel ek nog maar net as ’n kind, maar ek betaal darem al belasting so ek gaan sê ek is ’n volwassene. As volwassene het ek ’n village nodig om my te raise.

Ek hou van die woord raise. Ek het ’n village nodig om my op my lewensreis met wysheid en kennis en ondersteuning te help ‘grootword’, ja. Maar ek het ook ’n village nodig om my te raise in die sin van oplig, my hande hoog hou, my te help regop kom, want partykeer kan jy net nie alleen nie. Skrap dit. Ek glo meeste keer kan jy nie alleen nie.

Ek onthou nou ’n gesprek wat ek laas jaar met ’n 25-jarige gehad het. Hy het met trots verklaar hoe hy nog nooit iemand in die lewe nodig gehad het nie en hoe hy op sy eie gekom het waar hy is. Hy het my boos gehad.

Dalk kan ek nie namens hom praat nie. Wat ek kan sê is dat ek, op 28, steeds ’n village nodig het. Ek het ’n village nodig wanneer ek in die hospitaal se wagkamer sit. Ek het ’n village nodig as ek wil leer en groei. Ek het ’n village nodig as ek my toekoms en my loopbaan probeer uitpluis. Ek het ’n village nodig om saam mee fees te vier.

Wat ek ook besef is dat hierdie village ’n delikate hand nodig het. Een wat die village bestuur sodat daar nie toksiese verhoudings in die village ontstaan nie, maar nie ’n hand wat beheer nie. ’n Village bestaan immers nie net uit die uitverkorenes nie, maar ook uit die onverwagse mense, die mense op die kantlyn, die mense wat jou verbaas deur skielik onbepland inspraak te maak op jou lewe. Dit gaan daaroor om villages te skep wat veilig is, maar gasvry is.

In die individualistiese kultuur van ons samelewing is dit dalk net weer gesond om te onthou dat ons, ongeag ons ouderdom, villages nodig het, om te onthou om vir hulle dankie te sê, en om te onthou om hulle veilig, maar gasvry te hou. Dan kan ons dalk weer opnuut bewus word van die Gees se werking en daarby aansluit.

Om koffie te maak

“Wat gee vir jou sin in die lewe?”
“My mense,” antwoord ek onmiddelik.
“Wie is jou mense?” Die name vloei van my tong af soos ‘n waterval. Ek ken my mense en my mense is vir my belangrik.

Wat maak egter my mense “my mense”?

Eers het ek hier ‘n hele lys van eienskappe neergeskryf, maar ek dink dit kom neer op een ding: My mense is die mense vir wie ek koffie sal maak sonder om te kla.

Daar is natuurlik ook ander eienskappe. Vir vanaand dink ek aan my mense as die mense wie ek kan bel net om te “chit chat“. Of die mense wie ek kan bel as dinge meer Suid gaan. My mense is die mense met wie ek nie okay kan wees nie en weet dat alles steeds okay is. Dis die mense wat my die minste as ‘n dominee en die meeste as ‘n fully flawed mens sien. Dis die mense saam met wie ek al harde klippe moes kou en die mense saam met wie ek al vir onvanpaste grappies gelag het.

My mense. Vanaand het ek nie veel meer te sê nie. Behalwe dalk dat ek dit haat om koffie te maak. Maar vir jou – ja vir jou sal ek koffie maak sonder om te kla.

Een voet voor die ander

“Daar is net een manier om die Comrades te hardloop,” vertel iemand wat dit al drie keer voltooi het. “Een voet voor die ander.”

Dit is al vyf jaar sedert die persoon daardie woorde gesê het, maar die woorde het een van daardie frases geword wat ek saam met my vir die res van my lewe sa; dra. Om die waarheid te sê: as ek ‘n motto vir 2020 moes kies, sou dit daardie woorde wees. “Een voet voor die ander.”

Ek sit vanaand en probeer beplanning doen. Ek besef die jaar is so te sê verby en ek het ewe skielik hierdie gevoel van mislukkig. Henri Nouwen het Jesus se versoeking in drie woorde opgesom: relevant, besonders, magtig. Jesus is versoek om hierdie drie dinge te wees. Die lyn word dikwels getrek om te sê dat ons dieselfde drie versoekings het. In my kop is dit die versoeking om ons waarde te meet aan wat ons het, wat ons kan doen, en aan ons status. Terwyl ons hierdie versoekings daagliks teëkom, glo ek het almal van ons ‘n Achilles’ heel.

Solank as wat ek kan onthou, is my primêre versoeking om my waarde te meet aan wat ek kan doen, aan of ek ook iets besonders kan doen. Dis ‘n versoeking waarvan ek terdeë bewus is, maar selde kan oorkom. En dan gebeur 2020. En die mat, met al my normale maniere van dinge doen, word onder my uitgeruk. Elke aspek van my werk, soos so baie ander beleef het, moet ewe skielik aanpas by hierdie nuwe wêreld. Ek wens ek kon nou skryf dat ek, soos die Ingelsman sou sê: “rose to the occassion”. Terwyl ander egter gemaklik verby my teen die heuwel uitgedraf het, het ek vir my voete gestaar en net gedink: “een voet voor die ander.” Dis nie valse beskeidenheid nie. Dis nie skimp vir komplimente nie. Dis die realiteit van sake en ook dit moet ek in die gesig kan staar.

So nou, wanneer ek al beplanning vir Desember preekbeurte begin doen, kyk ek terug op die jaar en ek dink: “wat het ek gedoen?” In der waarheid het ek in baie ander aspekte van my lewe heelwat kon bereik, maar voor my gemeente staan ek verleë, want as hulle my waarde, soos ek, meet aan wat ek alles bereik en doen, moet hulle nou hulle bedenkinge hê.

Twee jaar terug sê ‘n dominee vir my: jou uitdaging is om op te hou om jou waarde te meet aan wat jy doen en om te begin om jou waarde te meet aan die feit dat jy ‘n geliefde van God is. Dit was baie mooi woorde wat ek graag ignoreer. Hierdie jaar hoop ek dat die gemeente my waarde ook kan bepaal volgens wie ek is en nie volgens wat ek alles bereik het nie. Maar ook dit sal geen waarde hê as ek dit nie self kan doen nie. 2020 dwing my tot stilstand voor God met die wete dat ek my waarde hierdie jaar (en eintlik altyd) slegs in wie ek is, in my identiteit as God se geliefde, kan vind, terwyl ek een voet voor die ander die heuwel verder uitdraf.

,

Berge en piramides

Gister was ek soekend.

Ek het dit die eerste keer in die kunsafdeling van Exclusive Books besef. My beste vriendin doen nie Exclusive Books saam met my nie. Sy los my daar, gaan doen iets en kom haal my dan weer oor ’n ruk. Dit gee my gewoonlik kans om stadig maar seker deur die rakke te loop en na al die boeke te kyk.

Gister was egter anders, want waar ek gewoonlik deur elke rak beweeg het, al die titels bespeur het, het ek gister deur die rakke gevlieg, opsoek na ’n boek wat ek nie kon vind nie. Dis nie soseer dat ek ’n spesifieke boek in gedagte gehad het nie, maar ek het ’n boek gesoek wat die honger in my sou stil. Soos Alice in Alice in Wonderland het ek my neus opgetrek vir boeke met te min prentjies in (dit het die kunsboeke ingesluit). In plaas van titels, het my oë oor die voorbladkuns van die boeke gevlieg. Soekend.

In die kunsafdeling verlang ek terug na museums. Ek dink met verlange aan Kaapstad se mooie Zeitz MOCAA (kunsmuseum). Ek sug saggies as ek onthou dat fliek ook nie nou ’n opsie is nie. Ek ry weg van Kaapstad, met my rug na die berge wat ek in vandag se weer nie kon uitmaak nie. Iewers op die N7 kom staan hierdie gedagtes netjies in ’n ry langs mekaar om die waarheid uit te spel: ek is al heeldag honger, soekend, na skoonheid.

Skoonheid is ’n breë term. In the eye of the beholder, nie waar nie? En die skoonheid wat ek vandag soek is dalk anders as more. Gister, het ek byvoorbeeld definitief iets visueel gesoek terwyl ek glad nie die skoonheid van musiek en woorde en mense en geselskap afmaak nie. So ek kan nie sê wat skoonheid is nie, maar ek weet dit is nodig. Ek weet dit is nodig op die kleinste maniere ook al. Of verklap ek net waar ek trek op Maslow se hiërargie/piramide van behoeftes? Sê dit nie baie dat my grootste behoefte vir ‘n groot gedeelte van gister nie kos, klere, vriende of selfs betekenis was nie. Dit was skoonheid.

Maar dit kon ek nie op die N7 bepeins nie. Die weer en pad trek my aandag af. Ek kan skaars voor my sien. Die strate is pikswart. Beurtkrag vlak vier is mos aangekondig. Die reën hop hard van my voorruit af en gaan land iewers in die poele wat die lyne op die pad versteek. Die wind leun-leun teen my kar. Al hoe ek weet waar ek ry, is deur om die katogies langs die pad dop te hou.

Ek het al in sand en sneeu gery, maar gisteraand, vir welke rede ook al, het ek onveilig gevoel. (Maslow vlak 2: veilighied). So daar is besluit dat ek die aand eerder in ’n gastehuis spandeer en weer sal ry wanneer die weer beter lyk. Bedremmeld stap ek in die donker gastehuis in. Teen negeuur slaap ek.

Vanoggend loer ek onder die komberse uit en kyk na buite. Ek tel my foon op en vra die gasheer of hulle reeds ’n bespreking vir vanaand het. Hulle het nie. Soos wat ek nou hier in die son sit en skryf, kyk ek oor ’n vlei na Tafelberg en kie, en ek weet: Ek het skoonheid gevind.

Onoorspronklike gedagtes oor die liefde

Vandag, sewe jaar gelede, het ek en een van my kêrels begin uitgaan. Nee, ek is nie so sentimenteel nie. Facebook was so gaaf om my te herinner (gaan hulle my oor vier maande ook herinner dat ons weer stil-stil Facebook-unofficial geword het?). Die herinnering gaan gepaard met twee foto’s. Links, ‘n foto waar ek vir die kamera lag. Regs, ‘n foto waar hy, in suit en tie, ‘n meisie in ‘n wit rok soen. Die post laat my lag.

Maar vanaand, sit ek hier in my enkelbed en wonder oor sy foto. Is hy gelukkig?

Ek het geen bymotiewe as ek dit wonder nie. Ek wonder dit bloot in die lig van ‘n speletjie wat ek die afgelope paar jaar begin speel het. So maak mens. Dit begin met die volgende vraag: Hoeveel couples ken jy wat actually gelukkig getroud is?” Dan is dit die ander persoon se beurt om “uhhhmmmm” te neurie terwyl hulle hul koppe skud. Die speletjie is dan verby. Dis ‘n eenvoudige speletjie, maar baie effektief.

Sien, eie aan my persoonlikheid, wissel ek konstant tussen twee ekstreme: die hopeless romantic en die skeptikus. Want soveel soos wat ek van my bogenoemde speletjie hou, so ook verluister (is dit ‘n woord?) ek my aan stories van hoe paartjies ontmoet het, hoe hulle sewentig sakke sout saam gesleep het en hoe hulle gelukkig saam oud word.

Ek kyk na die tieners om my wat leer dat daar ‘n dun lyn tussen verlief en deurmekaar is. Ek kyk na diegene wat enkellopend is, getroud is, geskei is. Ek kyk na ouer paartjies wat hul huwelik en ‘n eenjarige aan die lewe probeer hou, wat tieners probeer oorleef, of wat mekaar moet herontdek na die kinders uit die huis uitgetrek het. Ek kyk na paartjies wat nie (meer) kinders het nie, nie straight is nie, nie straightforward is nie. Ek kyk na my ouma, wat alleen in ‘n woonstel in ‘n ouetehuis sit en vir wie die lewe net nie meer dieselfde sin het vandat my oupa, haar beste vriend vir meer as 60 jaar, verlede jaar oorlede is nie.

Wat sien ek? Ek sien ‘n komplekse warboel van inligting wat vir my geen duidelike antwoorde oor romantiese verhoudings gee nie en dit is okay. Ek is al lank al daarvan bewus dat die lewe en die liefde inderdaad fifty shades of grey is. Maar kan ons asb. tog net dan ophou om te maak asof dit eenvoudig is?

Kan ons sag werk met die tiener wat bang is vir ‘n nuwe verhouding en nie te vinnig vir hulle sê wat hulle moet doen nie? Kan ons ophou om jong vroue te vra of hulle al Boer soek ‘n vrou oorweeg het? Kan ons ophou om ons koppe te skud as paartjies “te vinnig” in die ding spring en kan ons stilbly as hulle nou al vir 15 jaar saambly en getrou is aan mekaar, maar nie trou nie? Kan ons ophou om enkellopende jongmans “gay” te verklaar en gay individue straight te bid? Kan ons minder druk op onsself plaas om soos ‘n “tipiese” getroude paartjie te lyk en kan ons sag werk wanneer mense opmors? Kan ons ophou om jonger generasies vir hul losbandigheid te veroordeel as ouer generasies nie gesonde rolmodelle vir huwelike bied nie? En kan ons ophou om die vervalle huwelike van ander as verskoning vir losbandigheid te gebruik?

Eintlik verklap ek net my eie stryd met die gedagte aan trou en 2.5 kinders kry. Ek het altyd goeie vriende en soms goeie vrye en tussendeur wonder ek regtig nie of dit nie net genoeg is as mens die risiko’s in ag neem nie? Vanaand, is dit die skeptikus wat praat, maar ek ken ook myself. Die kans is goed dat ek oor 7 jaar self in ‘n wit rok op ‘n foto gaan staan en lag. Maar of dit ‘n trourok of net ‘n lekker ou somersrok gaan wees, sal net die tyd leer.

Lyf in Lockdown

Ek het dit die eerste keer opgelet toe ek 21 jaar oud was. Dit werk so: Ek sit met my voet teen my kêrel se been. He loves me. Dan kielie sy been en hy skuif sy been net effens sodat my voet nie meer teen sy been is nie. He loves me not. Ek deel my sentiment en hy skuif sy been sodat ‘n ander deel van sy been nou aan my voet raak. He loves me!

Daardie oomblik, wat ek so helder onthou, was die begin van ‘n reis van self-ontdekking. Een wat Gary Chapman sou beskryf as die ontdekking van my love languages. Chapman beweer daar is vyf tale waarin ons liefde ontvang en uitdeel: woorde van waardering, kwaliteit tyd, geskenke, dade, en fisiese aanraking. Ek dink julle kan raai watter my hoogste is. Later in my lewe sou die arbeidsterapeut my daarop uitwys dat my behoefte aan tas volgens een of ander maatstaf ‘n +8 is. Die gemiddelde mens lê tussen -2 en +2…

Vanaf die voet-kielie-been dag het my bewussyn van my behoefte aan fisiese aanraking net gegroei. Dit is soos kos vir my: my vriendin wat haar bene oor myne gooi, die kind wat teen my opcuddle, my broer wat my hare deurmekaar vryf, ‘n vriend wat ‘n druk gee, of die arms van die een met wie ek dans. Ek is intens bewus van die lywe rondom my en waar ek veilig voel en dit gepas is, kry ek soveel as moontlik nabyheid tussen my en ander.

Tot onlangs. Of wag nee. Vyf maande tel nie meer as onlangs nie. My belewenis is dat die inperking vir my (en so baie ander) nie net ‘n inperking tot my huis is nie, maar ‘n inperking in my lyf. Ek gaan nie jok nie. Dis ‘n uitdaging. Dis soos daardie diëte waar die vroue ‘n hele dag hou op ‘n koppie cup-of-soup en ‘n Provita. Daar is ‘n rede hoekom ek dit nog nooit werklik probeer het nie.

Ek het wel al gevas. 40 Dae sonder sjokolade. En dan eendag is ek al driekwart in ‘n Cadbury Mint sjokolade in en dan onthou ek: “Gits! Ek vas dan!” Dit was my ervaring nou die aand, toe ek in ‘n goeie vriendin vasgeloop het. Ons het mekaar met groot vreugde omhels en lank hand-om-die-lyf gestaan en gesels. Dit was eers heelwat later wat ek besef het dat ons dalk nader as die voorskritelike 1.5 meter aan mekaar gestaan het.

Wat staan mense soos ons dan te doen? Dié van ons wat lywe so mis dat ‘n elmboog-groet al jou dag maak? Of wat meer kort as net ‘n “Ag gee my net vinnig ‘n drukkie” drukkie? Wanneer hou jy by die dieet, want dit is die gesonder opsie, en wanneer gryp jy na iets vol suiker om te verhoed dat jy nie binnekort flou val nie? En wat as jou keuse vir regop staan weer ‘n effek kan hê op iemand anders se gesondheid? Is ek veronderstel om die voedingstowwe wat ek nou uit my dieet sny, op ander maniere te probeer aanvul? Of werk dit soos met lae bloedsuiker: eet meer gereeld, maar minder op ‘n slag? Of is hierdie eerder soos ‘n intermittent fasting maraton?

Ek het geen perfekte antwoord nie. Ek het geen wonderbaarlike insigte, geen kitsoplosings nie. Ek het ‘n lyf. En hierdie lyf wonder maar net ‘n bietjie saam met ander lywe.

Toekomsbeplanning

In graad 2 gesels ek en my pa oor wat ek eendag wil doen. “As jy sê jy hou van Wiskunde, dan sal jy dalk daarvan hou om ‘n ouditeur te word,” sê my pa. “Wat is ’n ouditeur?” My pa het ’n laaaaaaang antwoord in sy taal gegee. Dus: taal wat ’n agt-jarige maar skrams verstaan. Hy sou ons altwee baie tyd kon spaar as hy net ’n bietjie in die toekoms kon insien.

In Graad 8 gesels ek en my pa oor wat ek die dag gedoen het. “My EBW (Ekonomiese Bestuurswetenskap) juffrou het pa se nommer gevat. Sy sê sy gaan pa bel omdat ek in haar klasse slaap.” Sy’t nooit gebel nie, maar in hierdie onderwyseres se klasse het ek besluit dat ek nooit die ekonomie of rekeningkunde interessant sal kan vind nie.

Oor die jare sal ek natuurlik uitvind dat mens iets gewoonlik interessanter vind as jy dit verstaan, maar ongeag wat ek lees of luister, die ekonomie bly vir my onverstaanbaar en daarom vervelig – soos ’n dominee se gebrabbel vir ’n jong kind.

Hierdie gedagtegang word vanaand my agtergrondmusiek terwyl ek aan my tuinprojek werk. Na drie en ’n half jaar in my tuinwoonstel wat ek huur, wil ek uiteindelik tuin maak. Ek kyk om my en besef dat alles wat ek vandag gekoop het, alles wat ek hier gaan bou en plant, gaan agterbly as ek die dag trek. En net vir ’n oomblik slaan die gedagte my: Is dit dan die moeite werd? Ek sien hoe 8-jarige ouditeur Marileen haar kop vir my skud. Dis nie hoe mens met geld werk nie.

Wanneer is iets die moeite werd? Eers wanneer ek iets daaruit kan kry en dit daarom ’n bate word? En wat kwalifiseer as daardie “iets” wat ek moet uitkry? Moet dit geld wees? Sover ek verstaan, ja. Of ten minste bitcoin. Maar wat van die vreugde van skep of die gedagte dat ek dit wat ek gekry het in ’n goeie toestand gaan teruggee? Of dat ek, al is dit hoe kort ook al, sal kan vreugde put uit ‘ons’ erf?

Ek word onwillekeurig aan Jeremia 29 herinner. Die Israeliete is in Ballingskap, in ’n vreemde land. Die grond is nie hulle eie nie. En tog:

4So sê Ek… 5Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan…  7Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”

Ek hou daarvan om te dink dat hierdie stukkie erf, al het ek ook geen titelakte nie, nie net my landlords s’n is nie, maar myne ook. Vir die tyd wat ek hier bly, lê die waarde van wat ek doen dan nie in of ek dit eendag sal kan saamtrek nie, maar in die saambou aan wat ons hier het. Miskien is dit ons unieke verhouding, miskien sal ek eendag anders voel, maar vir nou is hierdie vir my ’n ‘ons’ ding. Want hulle belange is my belange.  

My toekomstige tuin is die moeite werd omdat dit waarde as kreatiewe uitlaatklep het. Omdat dit waarde vir die geheel van my tuinwoonstel het. Omdat ek graag wil kan sê dat ek gehelp het om aan die waarde van my hoekie van die Aarde by te dra. En omdat ek ‘n gewoonte daarvan wil maak om in goed (lees: geleenthede, verhoudings, hierdie lewe selfs) te belê ongeag hoe tydelik dit mag wees.

So nee. Ekonomie was nog nooit en sal ook nooit my forte wees nie. Dalk omdat ons gedagtes oor waarde ietwat verskil. Gelukkig het die ouditeur plan nie lank gehou nie. Dit was grootliks te danke aan my 8-jarige brein, want toe my graad 2 juffrou wou weet wat ek eendag wil doen, antwoord ek: “Ek wil ‘n outeur word.”

Nee dankie.

Ek bely. Ek hou van ‘n bar. Ek hou van die harde musiek en die baie mense wat byna op mekaar staan. Ek hou van die gemoedelikheid. “Ek ken mos vir almal, ek is almal se pêl.” Ek hou van die idee dat ek met mense in kontak kom wat selde in die kerkbanke sit. Ek hou daarvan dat mense rou is. Ek hou van pooltafels en jukebokse. Ek hou van dans en nachos en ja selfs ’n drankie of twee. Ek hou van mense se stories (voordat hulle uitvind ek’s ‘n dominee, voordat hulle vir hul taal begin verskoning vra en my vertel wat als verkeerd met die kerk en my beroep is).

In my vierde jaar moes ek vir ’n klasopdrag ’n plek in Pretoria kies waar ek God beleef. Ek het Aandklas gekies. Leidraad: die aand gedeelte is akkuraat (vir meeste van ons). Die klas gedeelte…wel… nie so baie nie. Ek onthou ek het iets geskryf in die lyn van dat ’n bar my laat dink aan hoe die kerk behoort te wees: mense kom soos hulle is, jy kan met enigiemand gesels en jy is net.

So is dit ‘n verrassing dat ek vanaand, met dié dat bars weer normaal kan funksioneer, myself in een gevind het? Ek het eintlik ’n afspraak wat lank terug reeds gemaak is met iemand gehad, maar die tydsberekening was besonders.

So hoe is ’n bar na vyf maande se vas?

Die musiek wat jou reeds buite by jou kar ontmoet was verwelkomend. Maar het die bar dan nou altyd so vol rook geruik? Minder verwelkomend. Die vrou agter die kroeg glimlag vir ‘n slag. Daar is ’n joligheid en almal groet en is bly om weer te kan uitkom (en kom ons wees eerlik… meeste is bly dat hulle kan rook en drink).

Ek self rook nie en drink maar stadig my dop vir die aand. Ek verkyk my aan die mense terwyl ek en die vrou voor my (glo dit of nie) besigheid gesels. Dis goed om weer in die aand uit my woonstel te kom en met vreemdelinge kontak te hê (het ek genoem dat ek uitsonderlik hoog as ekstrovert toets?).

Maar nee. Ek het van die vlieë vergeet. Die vlieë wat kom kyk of Lady Luck aan hulle kant is. Sy was nie. Inteendeel. Hoe skryf mens oor my ervaring vanaand sonder dat dit soos klaagliedere klink? Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink klaagliedere is belangrik, maar dit spaar ek vir my vriendin. Dit is nie die doel van hierdie blog nie.  

Laat ek my beperk deur op een klein gebeurtenis te reflekteer. ’n Ou koop vir my ’n drankie. Een waarvoor ek nie gevra het nie. En ek sê “Nee dankie”. Die antwoord: “Jy mag nie nee sê nie.”

’n Deel van my wil nou die spreekwoordelike “mic drop” en wegloop. Die hashtag aanlas wat sê: #enoughsaid. Maar kom ek verduidelik tog. Dit is vreemd dat ek, in die jaar 2020, nog aan ’n man moet verduidelik dat ek eintlik nee mag sê en dat ek (tot sy totale skok) nie ’n slegte persoon is vir die feit dat ek dit doen nie. Ek dink dis vreemd dat ek dit amper wil verdedig deur te sê: “Ag dis maar net ’n ou in ’n bar”, maar selfs in die bar mag ek beter verwag. Ek kan net nie anders as om te wonder: As ek nie eers nee mag sê vir ’n bier nie, waarvoor mag ek dan nee sê?

Miskien is dit ‘n groot sprong, maar ek wonder skielik wat Jesus se ervaring sou wees as Hy ’n vrou sou wees? Sou Sy aan die kruis gesterf het of sou Sy eerder iewers langs die pad, saam met soveel ander gelê het, verkrag, verbrysel, naamloos, want nee was nie ’n opsie nie…?

Om oefening op die naam te noem

Oefening is moeilik en moet my niks anders vertel nie. Soos gister, toe ek die steile Adamstraat uit geshuffle het. Mense dink jy oordryf as jy sê jy was byna dood, maar niemand hoort só rooi in die gesig te wees nie.

Ek sal wel toegee dat party oefening moeiliker is as ander. Laat my draf voor ek fietsry, laat my bene doen voor arms, en laat my in die fetus posisie mediteer voor ek core doen. Maar ai. Die week was vol oefening: Adamstraat natuurlik, en oefening om met chopsticks sushi te eet (dit bly ‘n kuns), en die ewig-gewilde oefening van grendelaande sonder uitgaan. Maar verreweg die moeilikste oefening was vanmiddag.

Mense het mos soms idees wat goed lyk, maar net vir die eerste ruk. Vandag se oefening was na vier ure nie meer snaaks nie. Die idee klink eenvoudig genoeg. Skryf die name van die gemeentelede op klein papiertjies neer en plak dit op die plekke waar hulle gewoonlik sit. Sien, die bedoeling daaragter is goed. Die idee is om liggaamlikheid te gee aan kerk-wees in hierdie virtuele wêreld. Om mense te laat verstaan dat ons hulle raaksien. Om ‘n gevoel van saamwees, hoe klein ook al, te bewerkstellig.

Maar o wee! Draai toe nou uit my brein is ‘n sif. Sit my op die spot en ek vergeet van die mees gereelde gesigte se name. En hoe spel mens nou weer Michaela se naam? Ja, mens kan nie net ‘Mikayla’ op enige manier spel nie, want Weskussers laat hul kreatiwiteit floreer as dit by Makayla’s kom.

Gelukkig het ek twee kollegas wat nie naastenby so vergeetagtig soos ek is nie en wat die name sommer so in ‘n ry af opnoem, maar selfs hulle vergeet plek-plek mense wie hulle gereeld mee te doen het. So help ons mekaar so deur die middag, met (ek is nogals opgewonde om te sê) net ‘n bietjie hulp van Whatsapp groepe en gemeentelyste. O! En die skriba het natuurlik ook gehelp. Die vrou weet waaragtig alles!

Wat’s my punt? Om aan almal te dink en om almal se name te onthou, was voorwaar ‘n uitdagende oefening, maar vreemd genoeg ook baie bevredigend. Dit laat my nuut dink oor watter mense ek raaksien, en watter mense nie. Dit laat my dink oor hoeveel tyd ek by die onderskeie banke spandeer. Maar meer as enigiets gee dit my nuwe waardering vir die gedagte dat God ons op die naam roep.

Al hierdie gedagtes inspireer my byna om te oefen om almal om my se name te ken, maar ek moet ook erken dit klink soos baie werk. Amper soos oefening…En tog sien jy my elke nou en dan in Mr Price Sport uitrustings getooi, reg vir die uitdaging.