The New Law

My fellow South Africans,

You have heard it said that it takes a village to raise a child, but I tell you
to reduce your village to your household and your handheld.

You have heard it said that two in distress make sorrow less, but I tell you
to bury your beloveds without a begrafnisbroodjie in you right hand, the other’s tears in your left.

You have heard it said that shared joy is doubled, but I tell you
to wed without all your witnesses, to age without the candles, to graduate without the cap.

You have heard it said that if you won’t work, you shan’t eat, but I tell you
to forget the words, to forgo the work, for the sake of others.

You have heard it said that such a life, such a death, but I tell you  
to dig graves blind to age, gender, race, income, or quality of or goodness in life.

But then again. You already noticed. You already know this.

Ek sien jou

Ek
sien
jou.
Jy
wat
voor
my sit.
Jy wat
glo maar
nie glo nie
Jy wat oral betrokke is.
Jy wat my inspireer. Jy wat my eintlik
die ander dag vies gemaak het. Jy saam met wie ek
gisteraand nog tot laat gekuier het. Jy wat altyd alleen
agter sit. Jy wat altyd saam gesels na afloop van die
preek. Jy wat ‘n naamplaatjie op jou bank kon sit as jy
kon. Jy wat altyd glimlag terwyl ek daar voor staan. Jy
wat my herinner dat ek stadiger moet praat. Jy wat klok-
slag op jou plek sit. Jy wat die snaakse antwoorde gee.
Jy wat almal groet as jy instap. Jy wat my laat veilig voel.
Jy wat my na die tyd gaan bel. Jy wat my leer. Jy wat altyd
eerste jou hand opsteek. Jy wat op jou ma se skouer slaap.
Jy wat deel is van my geloofsgemeenskap. Wat nou deur
die eenrigting spieël van ‘n skerm kyk. Ek sien jou.

Fool-fool vorentoe

Nou die dag staan ek by die toonbank van my gunsteling koffiewinkel (dit het die woord koek in, dit sou jou gunsteling ook wees). Die man langs my vra sy kelnerin (wie darem ook sy vriendin is): “En, het jy al gedink?” Net soos die vorige dag, skud sy net haar kop en lag. Ek grinnik. Vir twee en ’n half jaar vra hy haar byna elke week (of is dit dag?) of sy nie op ’n date met hom sal gaan nie. Ek draai na hom toe: “Jy is die woord foolhardiness vergestalt!”

Foolhardiness: reckless, venturesome, foolishly brave.

Ek vermoed hy is net 60% ernstig en dat hy verder net die grap geniet. Gelukkig maak dit haar darem ook nie ongemaklik nie en speel sy ook heel gemoedelik saam. As ek egter eerlik moet wees, lyk hy soms net soos ’n regte fool.

Fool: a person who acts unwisely or imprudently, a silly person.  

Die lyn tussen fool en foolhardiness is dun. Te dun na my smaak.

Ek voel die versoeking om te vra in watter kategorie my verhoudings (beide romanties en vriendskaplik) val. Maar nee. Dit is 02:37 in die oggend. Mens vra nie dan sulke vrae nie. Ek voel ook die versoeking om te skryf oor geloof en hierdie fool besigheid. Maar weereens: dis 02:38.

Om 02:39 op hierdie Sondagoggend kan ek wel die volgende sê: Oorspronklik het ek gedink dat ons sal aanhou om die man ’n fool te noem, tensy hy natuurlik die dag sy date sou kry. Maar ek was reg toe ek hom nou reeds foolhardy genoem het, want daar is iets roekeloos, iets dapper, daaraan om aan te hou probeer, al lyk jou kanse vir sukses maar skraal. Buitendien, ons beheer oor die toekoms is te weinig dat ons slegs die dinge kan aanpak wat ons foolhardy sal laat lyk. So intussen, beweeg ons maar fool-fool vorentoe.

Meer as net ‘n bietjie gespanne

Hier sit ek voor my rekenaar na 2 weke se siekverlof. En nee – ek het nie COVID gehad nie. Vir my was dit maar net nog ’n baken op my pad saam met bipolêre depressie. En nee – dit beteken nie dat ek meer as een persoonlikheid het of totaal en al mal is nie (my vriende en familie wonder wel soms…).

My diagnose was in 2009 en my ouers se goed bedoelde raad was: “Moenie vir mense vertel nie. Hulle gaan nie verstaan nie.” Wat is ’n ouer se raad dan as dit nie daar is om te ignoreer nie?  Hulle is reg natuurlik, min mense verstaan. Maar vir dié wat wonder: dit beteken dat ek soms deur depressiewe episodes gaan en soms deur episodes van hoër energie wat as hipo-manie (’n ligter vorm van manie) bekend staan. Soms kry ek angsaanvalle, soms is ek ekstaties en soms is die bed die enigste liefde in my lewe (normaalweg is dit kos). En ek weet: jy het ook al so gevoel. Dis egter die intensiteit en die duur van my episodes wat my situasie ietwat anders maak.

Terug by my verlof. Ek is terug by die werk en ek sukkel om my kop hoog te hou. Almal sukkel. COVID is vir almal moeilik. Watter reg het ek om vir ’n tyd lank net te unsubscribe? Ag en dan praat ek met mense wat, soos my landlady dit noem van nature die Sunshine gene het en ek voel skuldig dat ek nie net my uitkyk op dinge so maklik kan verander nie. Die redes agter my uitdagings het natuurlik tot ’n groot mate met my chemiese samestelling en gene (my pa het al jammer gesê) te doen. Maar al weet ek dit, voel ek skuldig.

Dan is daar daardie oomblik in die dag (my oomblik was sowat 15 minute gelede) wat jy dink: Basta! Dis nie net ek wat sukkel nie. Dáár moet een van my kennisse hoor hulle is ’n swak Christen omdat hulle op medikasie vir bipolêr gaan en ’n ander kennis is te bang om op medikasie vir angs te gaan omdat sy bang is sy lyk swak en ’n ander kennis wil nie hardop sê dat hulle in hierdie tyd met angs sukkel nie. Dan vervloek jy stigma en skaamte en sommer serotonien tekorte ook.

Hoe lyk Christen-wees dan as jy sukkel met goed soos bipolêre depressie, depressie, angs en dies meer? Ek kan natuurlik tekste opnoem wat praat oor hoe God sterk is as ons swak is (maar ek het dit al te veel in my gemeente gepreek, so kom ons kies iets anders). Ek kan gesels oor my sielkundige se Prediker 3-aanslag wat voorstel dat ek elke tyd op sy tyd vier. Of wat van Filippense 4 wat sê dat ons blydskap nie op ons omstandighede geskoei moet wees nie?

Ag nee wat. Vir vandag kry ek maar net troos in die Psalmdigter. Nie ’n spesifieke Psalm nie, maar sommer die hele spul. Ek het mos lankal besluit dat Dawid bipolêr was. Een oomblik loof hy die Here met absolute ekstase en die lewe lê voor hom en die volgende oomblik is hy in die donkerste dieptes en kan hy geen uitweg sien nie. Ek vind troos in die gedagtes dat ek soms dit wat ek voel, al voel ek hoe buite beheer en hoe bang vir my eie brein en emosies, net voor God kan neerlê en kan sê: “Dit is ek.” Punt.